fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-faksiegevegte in Mangaung lei tot onaanvaarbare verontagsaming van wetgewing

Faksiegevegte binne die ANC in die Mangaung-metro veroorsaak dat uiters belangrike munisipale finansiële bestuurswetgewing (MFMA) blatant verontagsaam word.

Die MFMA bepaal dat die burgemeester van ‘n munisipaliteit die jaarverslag, insluitend die oudituitkomste van die vorige boekjaar, voor 31 Januarie van die daaropvolgende jaar aan die raad moet voorlê.

Mnr. Mxolisi Siyonzana, burgemeester van die Mangaung-metro, het versuim om teen hierdie datum die verslag aan die raad voor te lê.

Die MFMA bepaal voorts dat indien die burgemeester nie die jaarverslag voor 31 Januarie ter tafel kan lê nie, hy skriftelike redes vir sy versuim so spoedig moontlik aan die raad moet verskaf.

Dit het egter ook nie gebeur nie. Daar is trouens nog nie eers ‘n datum vir ‘n raadsvergadering vasgestel nie. Die bepalings van die MFMA word dus gruwelik deur die ANC verontagsaam.

Siyonzana veg tans om politieke oorlewing weens faksiegevegte binne die ANC en laat die munisipale bestuur waarvoor hy verantwoordelik is in die proses agterweë.

Die jaarverslag is ‘n uiters belangrike verslag waarsonder die raad nie die nodige bestuursbesluite en stappe kan neem nie. Dienslewering en die inwoners van Mangaung ly uiteindelik daaronder.

Benewens die jaarverslag het die begrotingsassesseringsverslag vir die halfjaar ook nog nie voor die raad gedien nie. Volgens die MFMA moes hierdie verslag ook voor 31 Januarie gedien het.

Die assesseringsverslag het dit ten doel om te bepaal of ‘n halfjaarbegroting met die nodige begrotingsaanpassings nodig is en wat daardie aanpassings moet wees.

Indien ‘n halfjaarbegroting nodig is, moet dit teen 28 Februarie ter tafel gelê word. As die assesseringsverslag nog nie eens gedien het nie, sal daardie spertyd ook gemis word.

Daar is nog nie ‘n datum vasgestel vir die eerste raadsvergadering van 2023 nie.

Dit is onaanvaarbaar en indien die jaarverslag nie binnekort in die raad ter tafel gelê word nie, sal die VF Plus hom wend tot die ouditeur-generaal (OG) om die geouditeerde finansiële state ingevolge die MFMA self ter tafel te lê.

Mangaung is waarskynlik die swakste bestuurde metro in die land. Nie eens ‘n nasionale ingrypingspan kon hond haaraf maak van die gemors waarin die munisipaliteit se finansies en dienslewering verkeer nie.

Hierdie finansiële verslae is veronderstel om rigtingwysers tot reaktiewe en voldoende dienslewering te wees.

Die feit dat die verslae nie teen die vasgestelde spertye dien nie, bewys dat die ANC wetgewing bloot as ‘n riglyn ag. Daar bestaan geen erns of bevoegdheid om te handel met die probleme nie.

ANC-binnegevegte geniet tans voorkeur bo dienslewering. Die mense van Mangaung verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.