fbpx
Vryheidsfront Plus

Skuif van Lesufi terug na onderwys ‘n klap in die gesig van minderhede

Die besluit van Gauteng se premier, David Makhura, om Panyaza Lesufi terug te skuif na sy vorige portefeulje as LUR vir onderwys in dié provinsie, is ‘n klap in die gesig van minderhede aangesien daar geen twyfel oor is nie dat hy sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in die besonder gaan voortsit.

Lesufi het nog nooit ‘n geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaans minag en Afrikaanse skole wil vernietig nie. In sy dienstyd as LUR het hy talle Afrikaanse skole laat transformeer na Engels en dit is kommerwekkend dat Makhura glo onder ‘openbare druk’ geswig het om die status quo met Lesufi te herstel.

Lesufi se rekord getuig daarvan dat hy ‘n swak LUR was. Hy het nie genoeg skole gebou met sy toereikende begroting nie en gaan bloot aanhou met sy pogings om Afrikaanse skole te intimideer en te transformeer na Engels.

Die Driehoek-tragedie het ook bewys dat hy nie omgee oor die onderhoud van skole se infrastruktuur nie. Sy enigste belang by dié skool en ander skole met onlangse inspeksies was om vas te stel hoe vol skole is en hoe plek gevind kon word vir bykomende leerders wat nie Afrikaanssprekend is nie.

Dit is hoogs problematies dat ‘n persoon, wat aandadigheid moet aanvaar vir die tragedie, weer in beheer geplaas gaan word van ‘n omgewing waar kinders se veiligheid aan sy nalatige optrede oorgelaat gaan word.

Die VF Plus onderneem om Lesufi aggressief teen te staan. Die party sal sorg dat Lesufi sy mandaat op ‘n nie-diskriminerende grondslag uitvoer ingevolge die Grondwet wat wel die beskerming van moedertaalonderrig waarborg.

Die VF Plus sal werk daarvan maak om die opposisie teen Lesufi te verenig en om kennis te neem van sy gebreke waar hulle hom voorheen ondersteun het. Hy skuil agter ‘n openbare profiel wat sy tekortkominge wegsteek, naamlik dat hy nie die vermoë het om as LUR vir onderwys Gauteng se inwoners en leerlinge se belange na behore dien nie.

Omdat die ANC met net een setel regeer in dié provinsie, sal die VF Plus die opposisie-getalle gebruik om Lesufi so ver moontlik te opponeer en te dwing om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm.

Makhura het met dié skuif ‘n groot fout begaan. Dit is tekenend van ‘n ANC-regering wat nie werklik weet wat sy eie beleidstandpunte is nie, wat interne faksiegevegte het en wat sukkel om kundige mense in sy geledere te vind om te ontplooi in posisies waar hulle almal in Suid-Afrika kan dien.

Die VF Plus sal druk op Lesufi plaas om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm, om meer skole te bou om in die behoeftes te voorsien, om te sorg dat infrastruktuur onderhou word en dat gemeenskappe nie teen mekaar afgespeel word met onderwys as politieke speelbal nie.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.