Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Skorsing van adjunkkommissaris van Tshwane-metropolisie kom as geen verrassing

Die skorsing van die adjunkkommissaris van die Tshwane-metropolisie (TMPD), Umashi Dhlamini, kom as geen verrassing vir die VF Plus nie.

Dhlamini, wat verantwoordelik is vir finansies en administrasie binne die TMPD, se skorsing volg op ernstige bewerings van onreëlmatighede wat tydens die Madlanga-regskommissie van ondersoek aan die lig gekom het.

Die ondersoek fokus spesifiek op ‘n sekuriteitstender waarby Dhlamini en die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, Kholofelo Morodi (ActionSA), na bewering betrek word.

Hierdie is nie die eerste keer dat Dhlamini op ’n voorsorggrondslag verwyder word nie; hy is reeds by twee vorige geleenthede geskors op klagte van beweerde korrupsie. ’n Vorige forensiese verslag het Dhlamini reeds aan wanadministrasie skuldig bevind, maar dit bly onduidelik waarom daar destyds nie opgetree is nie.

’n Dissiplinêre voorverhoor was reeds in die vooruitsig kort voordat die VF Plus se Grandi Theunissen, destydse burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, deur ’n mosie van wantroue verwyder is.

Ná daardie politieke skuif het die saak teen Dhlamini blykbaar doodgeloop sonder dat dit afgehandel is.

Die VF Plus beskou die huidige skorsing as ’n noodsaaklike stap om die integriteit van die ondersoek te beskerm. Dit is egter kommerwekkend dat dieselfde amptenaar herhaaldelik in soortgelyke omstredenheid betrek word sonder finale gevolgbestuur.

Dit is van kardinale belang dat hierdie ondersoek vry, regverdig en deursigtig geskied.

Die publiek se vertroue in die metropolisie kan slegs herstel word indien die volle waarheid aan die lig gebring word en amptenare aanspreeklik gehou word vir hul dade.

Die VF Plus sal die verloop van die ondersoek noukeurig monitor en verwag dat onmiddellike en gepaste stappe geneem sal word sodra die finale bevindings beskikbaar is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.