fbpx
Vryheidsfront Plus

Skandelike besteding aan persoonlike beveiliging van klein regerings-elite deur VF Plus aan die lig gebring

Die skandelike besteding aan die persoonlike beveiliging van ‘n klein groepie politieke elite het aan die lig gekom ná ‘n vraag van die VF Plus in die nasionale raad van provinsies (NRP) aan Bheki Cele, minister van polisie.

Volgens Cele het die persoonlike beveiliging van 184 politici, regters en ander ongespesifiseerde 'baie belangrike persone' (BBP’s) oor die afgelope twee jaar sowat R18 miljoen per persoon per jaar gekos.

Die minister wou weer nie die identiteit van hierdie ongespesifiseerde BBP’s bekend maak nie. Die BBP-begroting oor twee jaar het meer as R6,6 miljard beloop.

Dit is nou in teenstelling met die jaarlikse polisie-begroting van R1600 per persoon vir die res van die Suid-Afrikaanse bevolking.

Van persoonlike beveiliging is daar natuurlik geen sprake nie.

Die feit dat misdaad lank reeds op ‘n totaal onaanvaarbare hoë vlak is en gevalle van moord, roof, anargie en plundering gereeld voorkom, maak hierdie besteding des te meer ontstellend.

Is dit bloot vulgêre magsvertoon of leef die regering werklik in vrees vir die res van die bevolking? Waarom moet elke minister, hoe onbenullig ook al, hom of haarself 24 uur per dag met swaar gewapende wagte omring?

Hierdie siniese misbruik van belastinggeld vind ook plaas teen die agtergrond van volgehoue pogings deur die regering om wetsgehoorsame burgers te ontwapen.

Hierdie soort optrede bewys opnuut dat die ANC-regering totaal uit voeling is met die res van die land en net ingestel is op hul persoonlike behoeftes ten koste van die land.

Kiesers moet in die komende verkiesing saam met die VF Plus opstaan en saamstaan teen hierdie skandelike vergrype.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.