Waar oud-minister Pravin Gorhan ‘n moeilike taak gehad het om die land se finansies te bestuur, is dié taak nou feitlik onmoontlik gegewe die land se rommelstatus, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.
Adv. Alberts het met vandag se begrotingsposdebat van die Tesourie in die parlement aan minister Malusi Gigaba gesê die ironie daarvan is dat dit die land se eie president is wat die ekonomie soos ‘n wegholtrein sonder remme teen ‘n steil afdraande geplaas het.
“Hierdie debat is anders as die voriges. Voorheen het ek vir min. Gordhan advies gegee oor belangrike kwessies en ek kon sien dat hy luister. Hierdie jaar gaan ons nie advies gee oor hoe die staat se fondse gebruik moet word nie, want ons weet die minister gaan geen ag daarop slaan nie.
“Ons weet die gekaapte kabinet het sy planne reeds agtermekaar oor wat om met die belastingbetalers en staatsdienspensioenarisse se geld te doen. Ons weet die minister sal die land blindweg verder op die pad na bankrotskap stuur sonder om hom enigsins aan die skade te steur.
“Ons weet dus die regering sal voortgaan met sy kernkragplanne, met volskaalse hidrobreking in die Karoo, met die onbekostigbare Nasionale Gesondheidsversekering, om projekte vir kaders te finansier met die staatsdienspensioenfonds (SDPF) se Isibaya-fonds en om bankrot nutsmaatskappye te red met die SDPF.
“Die minister moet egter daarvan kennis neem dat die mense van Suid-Afrika in die proses seergemaak word. Die stroom belastinggeld sal weldra opdroog soos die publiek gaan begin om belasting te vermy en ontduik, want watter regdenkende mens sal aanhou geld gee vir ‘n korrupte regering wat sy ware motief versteek agter rasverdelende woorde soos “wit monopolie-kapitaal”?
“Wat die minister se motiewe aanbetref, is daar verskeie redes om hom te wantrou. Die minister praat met ‘n gesplete tong as hy sê dat hy stabiliteit wil terugbring, want in die agtergrond hoor ons duidelik wat sy Marxistiese raadgewer, prof. Chris Malikane, se mening is.
“Daar is ook vrae oor die minister se eie eerlikheid. Hy het in die parlement gesê dat Standard and Poor’s (S&P) die afgraderingsbesluit geneem het voordat hy aangestel is. Vandag weet ons dit is nie waar nie. In my hand is ‘n dokument wat aantoon dié besluit is op 3 April geneem, ‘n ruk na die minister se aanstelling.
Die kabinetskommeling het dus ‘n duidelike impak gehad op die afgraderingsbesluit en is ‘n duidelike teken dat markte bekommerd is. Teen hierdie agtergrond kan daar geen vertroue wees in die minister se welklinkende uitlatings oor fiskale beleid nie.
“Hierdie trein het nie brieke nie en die ANC-regering gaan in 2019 ontspoor. Gelukkig is daar ‘n koalisie-trein wat gereed staan om die land weer op die regte spoor te plaas,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403