Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Rooftog van adjunkminister met sy lyfwagte wys hoe uitgelewer die publiek is aan misdadigers

Die voorval waar die adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste met twee lyfwagte beroof is van sy selfoon en sy motor, behoort aan die minister van polisie, Fikile Mbalula, te wys hoe uitgelewer die gewone burgers van Suid-Afrika aan die hande van misdadigers is, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die polisiediens gesê misdaadstatistiek wys dat die moordsyfer teen die jaar 2015/16 vir ‘n vierde jaar agtereenvolgens gestyg het. Hy het gesê die jongste statistiek sal wys of hierdie tendens voortduur, maar dit sal waarskynlik die geval wees.

“Daar moet ook ernstige vrae gevra word oor misdaad en moord op vroue en kinders in die land. Die wyse waarop die polisie sake van huishoudelike geweld hanteer is nie op standaard nie.

“Dit is duidelik dat daar nie daadwerklike vervolging plaasvind nie, en dit is ‘n teelaarde vir die wrede moorde op vroue en kinders wat ons tans sien. Die rede hiervoor is dat die misdadigers dink daar sal niks met hulle gebeur nie. Daar sal dringend hieraan aandag gegee moet word.

“Oor die minister se uitlatings dat hy die land wil ontwapen wil ek hom daarop wys dat so ‘n uitspraak van onkunde spreek. As hy Suid-Afrika ontwapen, sal dit in effek daarop neerkom dat hy misdadigers alleen sal bewapen wat gewone burgers totaal weerloos sal laat en misdadigheid skerp sal laat toeneem.

“Die minister is dalk nie bewus daarvan nie dat meer mense in Suid-Afrika weens steekwonde sterf as van skietwonde. Dit is die polisie se eie statistiek.

“Net 0,007% van alle moorde word met ‘n wettige vuurwapen gepleeg. Dit wys dat wettige vuurwapens nie die probleem is nie. ‘n Probleem is wel dat die minister populistiese uitsprake maak wat verwagtinge skep wat nie nagekom kan word nie.

“Die minister het self gesê daar is ‘n toename van 87,5% wat protesoptogte aanbetref. Dit is omdat die regering beloftes maak wat hy nie kan nakom nie en dan verwag hy die polisie moet die mense tot bedaring bring en orde handhaaf. Sulke ministers wat valse beloftes maak is die oorsaak van daardie optogte.

“Die VF Plus salueer die polisiemanne en -vroue wat so hard werk om ons almal veilig te hou,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.