Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sinkgate simptoom van Tshwane se vervalle waternetwerk

Die toenemende aantal sinkgate in die Tshwane-metro is ‘n simptoom van die metro se vervalle en verouderde waterinfrastruktuur weens jarelange verwaarlosing

Alhoewel die metro sedert Junie 2025 vordering gemaak het met herstelwerk, is die huidige begroting steeds onvoldoende om die krisis daadwerklik te hanteer.

Centurion bly ’n hoë-risikogebied en die VF Plus het reeds versoek dat ’n plaaslike ramptoestand verklaar word.

Volgens ’n raadsverslag is daar tans 63 sinkgate regoor die metro, met die jongste wat op 27 Oktober in Lyttelton ontstaan het weens die gebrekkige instandhouding van munisipale infrastruktuur.

Verskeie onafhanklike deskundiges se geologiese verslae bevestig dat die meerderheid sinkgate direk verband hou met die gebrekkige instandhouding van Tshwane se riool- en waterinfrastruktuur.

Hierdie bevindinge staaf die VF Plus se standpunt dat die probleem nie bloot natuurlik is nie, maar eerder ’n voorspelbare gevolg van jarelange verwaarlosing en onvoldoende begrotingsprioritisering. Asbespype wat gemiddeld 55 jaar oud is het lank reeds hul lewensduur oorskry.

Vir die 2024/25-boekjaar is slegs R14,7 miljoen begroot vir sinkgat-rehabilitasie wat net genoeg is vir nege lae-prioriteitsterreine. Groter sinkgate, wat tot R30 miljoen elk kan kos, bly onaangeraak.

Intussen word meer as R500 miljoen per jaar aan watertenkwaens bestee wat ’n tydelike en onvolhoubare plaasvervanger vir volhoubare infrastruktuurbelegging is.

Die VF Plus veroordeel hierdie misplaaste prioritisering en waarsku dat gebiede soos Lyttelton onveilig bly namate holtes onder paaie en eiendomme aanhou vorm.

Die party eis dat die begroting aangepas word om die werklike omvang van die probleem te weerspieël sodat ’n toegewyde instandhoudingsplan ingestel word vir vroeë lekkasie-opsporing, geologiese monitering en beter interdepartementele koördinering.

Die opgradering van Tshwane se waternetwerk is nie ’n opsie nie, maar ’n noodgeval wat onmiddellike prioritisering en volgehoue befondsing vereis.

Sinkgate is nie die kernprobleem nie, maar wel die metro se vervalle infrastruktuur.

Indien die metro nie hierdie werklikheid erken nie, loop dele van Centurion die gevaar om letterlik en figuurlik in duie te stort.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.