Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni beweeg gevaarlik nader aan fiskale afgrond

Die VF Plus is met rede bekommerd oor die Ekurhuleni-metro se finansiële verslag vir die eerste kwartaal van die 2025/26-boekjaar.

Dié verslag toon duidelik aan dat die metro vinnig nader beweeg aan ʼn fiskale afgrond.

Hoewel die metro ’n invorderingskoers van 96.26% voorhou, wys vorige verslae dat invorderingsvlakke in Eskom-gebiede so laag as 11.8% is. Dit plaas ’n onbillike las op ʼn kleiner groep inwoners en ondernemings wat wel betaal en wat nou die metro se finansiële las moet dra.

Intussen het kontantreserwes tot slegs vyftien dae gedaal wat ver onder die nasionale tesourie (NT) se minimum vereiste van 25 dae is. Dit beteken Ekurhuleni is een finansiële terugslag weg van ’n kontantkrisis.

Die situasie word verder vererger weens onbeheerste oortyduitgawes. Hoewel R161.8 miljoen begroot is vir oortyd, het die metro reeds R215.6 miljoen daaraan bestee. Dit is ‘n oorskryding van 33% binne drie maande.

Dienslewering stagneer, terwyl R2.1 miljard se skuld reeds in die eerste kwartaal afgeskryf is. Indien dié tendens voortduur, kan die metro meer as R8 miljard in die huidige boekjaar verloor — met R1 uit elke R5 wat eenvoudig verdwyn.

Die gevolge vir inwoners is tasbaar: Dienslewering versleg, noodherstelwerk word nie gedoen nie, kontantvloei vir infrastruktuur droog op en tariewe styg sonder enige verbetering in dienste.

Hierdie is nie fiskale bestuur nie, maar fiskale verval.

’n Metro wat só invorder, bestee en afskryf, kan nie volhoubaar funksioneer nie.

Onmiddellike finansiële dissipline en deursigtigheid is noodsaaklik om Ekurhuleni van ’n krisis te red.

Inwoners verdien stabiliteit, betroubare dienslewering en eerlike verslagdoening en nie finansiële waagspel en ontkenning nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.