Dit blyk duidelik uit ʼn verslag van die Tshwane-metro se menslike kapitaalbestuursgroep dat amptenare dienslewering lamlê met buitensporige vlakke van siekverlof, terwyl die bestuur niks daaraan doen nie.
Vir die tydperk van April tot Junie 2025 het die 18 266 permanente werknemers saam 43 033 dae siekverlof geneem. Dit is gelykstaande aan 118 kalenderjare se heeltydse werk wat in net drie maande verlore gegaan het.
Vir die volle finansiële jaar van 2024/25 beloop die siekverlof 142 490 dae. Dit is sowat 390 kalenderjare se werk wat verlore gegaan het.
Onder normale omstandighede behoort Tshwane se arbeidsmag 4,7 miljoen aktiewe werksdae per jaar te lewer. In stede daarvan het die metro meer as 30 000 werksweke in een jaar verloor.
Dit is nie ’n klein probleem nie, dit is ’n ineenstorting van produktiwiteit. Die metro kan eenvoudig nie na uitnemendheid streef wanneer sy werkers teen dié omvang afwesig is nie.
Geen funksionerende munisipaliteit kan hierdie vlak van verlies aan dissipline en kapasiteitsleemtes oorleef nie.
Dit vertraag dienslewering terwyl kragprobleme en waterlekkasies toeneem en paaie verkrummel.
Daar moet onmiddellik en beslis opgetree word.
Eerstens moet ’n volle ondersoek gedoen word na siekverlofpatrone, insluitend die herhaalde siekverlof op Maandae en Vrydae.
Tweedens moet mediese sertifikate streng geverifieer word en dissiplinêre stappe moet geneem word teen werknemers wat die stelsel misbruik.
Derdens moet werknemers wat nie hul poste kan volhou nie, geïdentifiseer word, met regstellende optrede of ontslag waar nodig.
Laastens moet welstandsprogramme ingestel word om legitieme gesondheidsprobleme aan te spreek, maar sonder enige genade vir misbruikers.
Werknemers van die Tshwane-metro moet weer ’n verbintenis toon tot ware toewyding en uitnemendheid.
Die VF Plus sal nie toekyk terwyl dienslewering in duie stort omdat amptenare nie hul werk verrig nie. Die metro verdien ’n arbeidsmag wat sy verantwoordelikheid ernstig opneem en die gemeenskap met trots dien


