fbpx
Vryheidsfront Plus

Seshonderd skape, beeste en vragmotors moontlik deel van reuse korrupsie en bedrog in Noordwes wat OB moet ondersoek

Die VF Plus het die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, versoek om beweringe van omvangryke bedrog en korrupsie te ondersoek waarby onder andere die premier van Noordwes, mnr. Supra Mahumapelo, na bewering betrokke is.

Beweringe wat die afgelope week in die media verskyn het oor beeste ter waarde van meer as ‘n miljoen rand wat met belastingbetalersgeld gekoop is en aan oud-president Jacob Zuma geskenk is, vorm ‘n klein deel van die totale beweerde bedrogspul. Die bewerings oor die beeste word tans deur die Valke ondersoek.

Uit inligting wat die VF Plus bekom het, blyk dit dat tenderbedrog die basis van die aangeleentheid vorm en die bewering is dat sekere tenders wat sedert 2014 van die departement van landbou in Noordwes aan die landbou-opleidingsmaatskappy AgriDelight toegeken is, tot die volgende beweerde korrupsie aanleiding gegee het:

• Oud-pres. Zuma het glo op 29 Oktober 2016 25 Bonsmara-koeie en een bul van AgriDelight ontvang met ‘n waarde van sowat R525 000-00. Die beeste is glo by Nkandla afgelewer.

• AgriDelight het glo fondse aan mnr. Mahumapelo verskaf om die franchise van twee MacDonalds in Mafikeng te verkry. Die franchises is glo op die naam van die premier se vrou.

• AgriDelight het glo finansiering voorsien vir tien 34 ton-vragmotors vir mnr. Mahumapelo se vervoerbesigheid sowel as vir sy Hi-Q bande-onderneming in Mafikeng.

• AgriDelight het na bewering seshonderd merinoskape op mnr. Mahumapelo se plaas in die Delareyville-distrik in Noordwes afgelewer.

• Die LUR vir landbou in Noordwes, me. Manketsi Tlhape, het glo 60 Bonsmara-koeie en twee bulle van AgriDelight ontvang. AgriDelight het haar glo ook gehelp om die onderneming Romans Pizza in Mafikeng te koop en het na bewering vir 'n kosmetiese operasie aan haar neus betaal.

• Die destydse direkteur van Agri Besigheidsontwikkeling (2014/15) mnr. Thebe Muthusi het die Amarula-klub in Klerksdorp gekoop in ‘n transaksie wat AgriDelight glo gefinansier het. Hy het glo ook R3 miljoen gekry vir 'n sitrusparsmasjien vir 'n sitrusfabriek naby Koster.

• AgriDelight het glo R25 miljoen ontvang vir 'n lewensvatbaarheidstudie vir die oprigting van 'n perde-renbaan in Rustenburg, soortgelyk aan die renbaan Greyville in Durban. Tot op datum het niks daarvan gekom nie.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.