Met Sanral se voorneme om dagvaardings oor onbetaalde e-tolgeld uit te reik, toon hy duidelik sy minagting teenoor die Nasionale Verbruikerskommissie en die kommissie se prosesse om sake te bereg, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die VF Plus het reeds namens alle rekeninghouers ‘n klag by die Verbruikerskommissie ingedien waarin geargumenteer word dat Sanral se meetinstrumente nie voldoen aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014)nie.
Volgens adv. Alberts het die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) reeds aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat Sanral nooit aansoek gedoen het om sertifisering nie.
“Totdat die kommissie nie hieroor ‘n bevinding gemaak het nie, kan Sanral dus geen rekening uitreik of stappe neem om geld in te vorder nie aangesien hy moontlik die wet oortree en alle rekeninge daarom onwettig sal wees.
“Sanral moet kennis neem van die feit dat dit ‘n misdryf is om in te meng met die werksaamhede van die Verbruikerskommissie.
“Die VF Plus het vandag ‘n kennisgewing aan die verbruikerskommissaris gestuur om hom in kennis te stel van Sanral se minagtende optrede teenoor die kommissie en om Sanral dienooreenkomstig op terme te plaas.
“Die VF Plus het onlangs ingevolge ‘n versoek van die Verbruikerskommissie ‘n konsiliasie-vergadering met Sanral gehou waar dit duidelik was dat Sanral van mening is dat hy nie die wet oortree nie.
“Van groot belang is dat Sanral tydens die vergadering erken het dat hy geen skriftelike bewyse het van die NRVS oor die wettigheid van sy meetinstrumente nie.
“Dit is duidelik dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, bloot op grond hiervan onwettig sal wees. Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus immoreel en ongrondwetlik is,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403