Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

SAL-reddingsboei: ANC-regering mik al hoe meer na pensioenfondse as reddingsboei vir staat wat soos ‘n piramideskema bestuur word

Die VF Plus neem met kommer kennis van die minister van finansies, Tito Mboweni, se plan om te kyk na pensioene om die SAL te befonds en waarsku weereens die direkteure van die openbare beleggingskorporasie (OBK) en die trustees van die staat se pensioenfonds (GEPF) om hierdie druk van die regering met alle mag teen te staan.

Enige belegging in bankrot staatsentiteite soos die SAL sal ‘n roekelose belegging daarstel wat persoonlike aanspreeklikheid vir die direkteure en trustees daar sal stel.

Die VF Plus sal nie skroom om die pensioenarisse by te staan om ‘n soortgelyke regsaksie teen die stropers te loods soos die geval was met die Transnet-pensioenfondse nie.

Voorts sal die VF Plus klagte indien by die maatskappyekommissie teen alle direkteure van die OBK vir hul roekelose optrede met ander mense se geld. Daarom moet die direkteure van die OBK en die trustees van die GEPF weereens deeglik besin oor hul fidusiêre of vertrouensverpligtinge teenoor die pensioenarisse.

Dit het nou ‘n gereelde mantra onder verskeie ministers geword om pensioenfondse as reddingsboei te sien vir die staat se benarde finansiële posisie.

Die feit is egter dat die ANC-regering die ekonomie in die land soos ‘n piramideskema bestuur het met baie min fokus op die skep van ‘n gesonde omgewing vir ekonomiese groei.

Trouens, die ANC-regering het in die verlede, en doen nog steeds almal ‘n onreg aan deur hom blind te staar teen grootskaalse korrupsie, hardkoppige kaderontplooiing van onbevoegde mense, rasse-dwepery en die verwerping van meriete as diensleweringsbeginsel.

Noudat al die geld opraak, is die stroping van pensioenfondse ‘n natuurlike en instinktiewe reaksie vir ‘n organisasie soos die ANC wat in sy filosofiese uitkyk en bestaan nog nooit iets lewensvatbaar kon bou nie, maar wat meesters van plunder en stroop is.

Die VF Plus sal, soos in die geval van die Transnet-pensioenfondse, nie ‘n steen onaangeraak los om die bose planne van die ANC te stuit nie.

Navrae: 082-391-3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.