Onheilspellende selfoonboodskappe waarin stakende poskantoorwerkers aan Marikana herinner word en aangesê word om hulself te bewapen met ‘pangas en alle soorte wapens’ hang tans soos ‘n donker wolk oor die SA Poskantoor (Sapo)–staking en onderhandelinge, sê adv . Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.
Hy sê die VF Plus is ook in besit van dokumente waarin Sapo erken hy is in ‘n desperate (dire) finansiële posisie wat skikkingsopsies bemoeilik. Om die probleem te vererger is vakbonde in ‘n magstryd gewikkel wat daartoe lei dat moontlike skikkingsteikens telkens aangepas word.
Die vakbonde eis dat alle nie-permanente werkers onmiddellik permanent aangestel word, asook ‘n salarisverhoging van 15% aan alle werkers.
Luidens inligting in die VF Plus se besit het Sapo ‘n voorstel van ‘n 8%-verhoging met ‘n personeelvermindering van 20% op die tafel geplaas. Dit is nie aanvaar nie en in ‘n stadium is byna geskik op ‘n verhoging van 6% en ‘n infasering van nie-permanente werkers oor ‘n periode van 4 jaar.
Hierdie voorstel is egter deur die Communication Workers Union (CWU) afgekeur. Die CWU dring steeds aan op ‘n 15%-verhoging en die onmiddellike vaste aanstelling van alle werkers.
In ‘n skrywe van Sapo aan CWU word onder meer gesê (uit Engels vertaal): Sapo se bestuur doen hierdie voorstelle met deeglike inagneming van sy haglike finansiële posisie waaroor oop kaarte gespeel is met die vakbond-leierskap…’
Dit blyk ook dat Sapo oorweeg om ‘n ‘aansporingsbonus’ van tussen R1 000 en R1 500 aan die stakers te betaal om die ‘gemoedere te kalmeer’ sodat onderhandelinge kan vlot. Die moontlikheid word geneem dat dit oor ‘n tydperk van drie maande betaal kan word.
Die VF Plus verneem dat daar onder permanente werkers groot ongelukkigheid hieroor is. Aangesien die nie-permanente werkers op ‘n grondslag van geen werk-geen betaling aangestel is, word op hierdie manier ‘n presedent geskep en dit word gesien as ‘betaling om te staak’, sê adv. Alberts.
“Die VF Plus doen weer ‘n beroep op die regering om kragdadig by hierdie staking in te gryp en die partye tot bemiddeling te roep. Al beteken dit daar vir eens op die tone van vakbonde getrap moet word,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403