Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Risiko-analitiese-benadering van president Ramaphosa in lyn met VF Plus se voorstelle oor opheffing van inperking, maar groter duidelikheid rondom vlak vier nou dringend nodig

Die risiko-analitiese-benadering wat president Cyril Ramaphosa volg om die Covid-19-inperkingsregulasies op te hef, is die regte optrede, maar dit is nou van die grootste belang om so gou en so deeglik as moontlik die detail rondom vlak vier bekend te maak om die onlangse verwarring rakende regulasies te voorkom.

Dit is belangrik om ‘n sinvolle balans te vind tussen die verspreiding van die virus en die ontsluiting van die ekonomie. Daar moet duidelike kommunikasie wees oor wat toelaatbaar gaan wees.

Die huidige benadering is nogtans in lyn met voorstelle wat die VF Plus in dié verband aan die president gedoen het. Dit is die enigste aanvaarbare wyse van optrede om die inperking te ontsluit. Dit is belangrik om die ontsluiting steeds te grond op risiko’s om die verspreiding van die korona-virus te verhinder.

Die detail ontbreek nog oor presies wat die verskillende vlakke van ontsluiting bepaal en watter sakesektore en watter regulasies op elke vlak herroep sal word.

Wat die VF Plus aanbetref, lê die moontlike angel hiervan in die detail. Die sukses van die geleidelike ontsluiting van die inperkingsperiode om die ekonomie te laat herleef sal grootliks afhang van wanneer, waar en watter sektore toegelaat gaan word om te heropen.

Dit is steeds van die allergrootste belang vir die VF Plus dat kleiner ondernemings soos eenmansake in ‘n posisie gestel word om so gou doenlik te begin werk en ‘n inkomste te genereer.

Die VF Plus sal graag wil sien dat e-handel en ondernemings wat skryfbehoeftes voorsien, asook handel waar koerierdienste die nodige produkte kan vervoer, oopgestel moet word onder inperkingsvlak vier wat van 1 Mei geld.

Die aflewering van kos van restaurante en kitskos-ondernemings moet ook in fase vier toegelaat word. Die risiko van aansteeklikheid kan tot ‘n groot mate beperk word met streng voorsorgmaatreëls soos die hoeveelheid personeel wat in kombuise werk.

Hierdie bedryf, soos vele ander, se voortbestaan is in die gedrang en dit kan wel tot ‘n groot mate herlewe indien dit toegelaat word om op hierdie wyse te begin funksioneer.

Dit sal ‘n groot bydrae lewer om die ekonomie weer geleidelik aan die gang te kry in ‘n poging om tot normale omstandighede terug te keer.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.