Suid-Afrika was deur die eeue heen ’n stille getuie van konflik, pyn en bloedvergieting. Vandag word die geskiedenis vernietig deur mense sonder kennis en insig, sê rdl. Sakkie du Plooy, VF Plus stadsraadslid in Tshwane, tydens ’n debat oor erfenis en standbeelde in die Tshwane-metroraad.
Rdl. Du Plooy het na die onlangse skending van monumente verwys en sê uit ’n volk se stryd en lyding word dikwels helde gebore. “Helde wat moedelose mense inspireer om weer die stukke op te tel en van voor af op te begin. Dit is vir sulkes wat daar monumente van klip en metaal gebou word sodat kinders en jongmense ook hierdeur geïnspireer kan word.
“Oor sommiges word boeke geskryf, oor ander word rolprente gemaak en vir enkeles word monumente opgerig. Almal het helde nodig.
“Die Afrikaner bewonder steeds vir Andries Pretorius, Paul Kruger en MT Steyn vir die rol wat hulle in die geskiedenis gespeel het. Ons bewonder ook die vernuf en heldhaftigheid van generaals De Wet, De la Rey en Louis Botha wat die leiding geneem het tydens die Anglo-Boereoorlog,” het hy gesê.
Rdl. Du Plooy het in sy toespraak verwys na die frustrasie van jong werkloses en gevra dat leiers nie ’n boodskap van wanhoop uitstuur nie. “Jong mense moenie aangemoedig word om monumente wat deur witmense gerespekteer word, af te breek nie. Dit gaan niks aan ’n situasie verander nie.
“Suid-Afrika soek vandag na leiers wat vir sy kinders wyse en sinvolle raad gee. Bowenal moet ons leiers, insluitende onsself, wys hoe ons swaarkry, lyding en probleme oorkom het. Dit verg harde werk en toewyding. Wanneer dit gebeur sal ons kinders ook eendag vir ons monumente oprig.”
Hy het na dele van die geskiedenis verwys waar alle volke en nasies gely het. ”Die land was getuie van die bloedvergieting van Zoeloe-seuns by Bloedrivier in 1838. Sy het die angskrete gehoor van duisende wat vermoor is tydens die magsoorloë van Shaka en Mzilikazi in die vroeë 19e eeu.
“Ons het Sharpeville beleef en gesien hoe Maki Skosana en vele ander tydens ‘n halssnoer-moord gesterf het. Vandag word buitelanders vermoor omdat hulle nie langer hier welkom is nie. Kom ons lei eerder die volk en behou ons monumente.”
Sakkie du Plooy
083 448 9473
sakkiedup@gmail.com