(Debat in parlement: 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders)
Grusame banieropskrifte in die media die afgelope week oor geweld teen vroue en kinders is ‘n hartseer aanduiding dat pogings om hierdie vorm van geweld uit die Suid-Afrikaanse samelewing te verwyder, nie suksesvol is nie.
Môre is die begin van nóg ‘n tydperk van sestien dae van aktiewe optrede en bewusmaking teen geweld teen vroue en kinders, en die vooruitsigte tot sukses lyk ewe skraal as met vorige pogings.
Daar was wel pogings van die owerhede om ‘n verskil te probeer maak, soos bykomende howe vir seksuele oortredings, spesiale opleiding vir polisielede, ‘n tolvrye noodnommer, skuilings en meer.
Tog blyk dit dat hierdie stappe geen verskil hoegenaamd maak nie. Dit is bloot kosmetiese pogings om ‘n veel meer komplekse en diepliggende probleem aan te pak.
Geslagsgeweld is ‘n diepgewortelde siekte in die Suid-Afrikaanse samelewing wat nie sal genees indien net die simptome behandel word nie.
Hetsy dit sosio-ekonomiese omstandighede is, psigologiese redes, die misbruik van alkohol of dwelms, skadelike geslags-stereotipering of kombinasies hiervan, sal geen begroting, skuiling of plan ‘n verskil maak nie.
‘n Regering kan nie mense se gedagte- of gedragspatrone beheer nie, maar hy kan wel iets doen aan omstandighede wat dit vorm en rig soos sosio-ekonomiese omstandighede, die gebruik van skadelike middels en selfs geslags-stereotipering.
Een voorbeeld is regstellende aksie (RA) wat die verkeerde aanname skep dat vroue van kleur nie self in staat of bevoeg is om sekere poste te beklee nie.
Aan die een kant sê die regering hy staan geslagsgelykheid voor terwyl hy aan die ander kant deur wetgewing ekonomiese gelykhede aan ander ontneem deur wette wat op grond van ras diskrimineer.
Hierdie vertrapping van vroue van minderheidsgroepe se ekonomiese regte wat veroorsaak dat sommige vroue nie kwalifiseer vir onder meer studiebeurse, werke en tenders nie, is niks anders nie as geïnstitusionaliseerde geweld teen vroue van sekere groepe.
Indien die ANC erns het oor gelykheid, ook op ekonomiese vlak, moet hy voor sy eie deur vee en almal dieselfde behandel. Tot dit nie gebeur nie, sal sy pogings om vroue op te hef en te beskerm hol en ongeloofwaardig wees.