Die moontlikheid dat die staat geld van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) kan gebruik om sukkelende staatsentiteite soos die SAL te red, kan rampspoedige gevolge vir die staatsdiens se pensioenfondse inhou en moet ten alle koste gekeer word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Die minister van finansies, Malusi Gigaba, het luidens mediaberigte gister in ‘n vergadering met Cosatu gesê hy kan nie die versekering gee dat die staat nie van die OBK se fondse sal gebruik om entiteite en ‘ander projekte’ te befonds nie.
Adv. Alberts sê die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om dit teen te staan en sal politieke partye en burgerlike organisasies aanmoedig om saam te werk in dié verband.
“Die staat moet besef dat die geld in die fondse nie aan hom behoort nie, maar aan die lede van die fondse. Dit mag nie as ‘n spaarvarkie gebruik word om staatsentiteite se koffers aan te vul net om weer gestroop te word nie.
“Dit raak toenemend duidelik dat politieke partye en burgerlike organisasies dié ongebreidelde plundery van entiteite nie langer sal duld nie. Die minister kan seker daarvan wees dat amptenare enige poging om hul pensioengeld aan stropery bloot te stel, in die howe sal beveg,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


