fbpx
Vryheidsfront Plus

Regering moet skuld kry vir tekort aan behoorlik opgeleide dokters in SA

Die tekort aan voldoende en behoorlik opgeleide dokters in Suid-Afrika moet vierkant voor die deur van die ANC-regering gelê word wat eerder struikelblokke in die weg van voornemende dokters lê as wat hulle help om die situasie te verbeter.

Suid-Afrika het slegs 25 staatsdokters vir 100 000 mense. Daar is ook beperkte plekke in mediese fakulteite. Daar is tans slegs 1 900 plekke beskikbaar vir eerstejaar-studente wat medies wil studeer. ‘n Bykomende probleem is die onregverdige keuringstelsel om toelating te kry.

Bykomend hierby maak die regering dit toenemend moeilik vir dokters wat in die buiteland studeer het en na Suid-Afrika wil terugkeer om hier te werk.

Ingevolge ‘n regulasie wat in 2009 aanvaar is betreffende die Wet op Gesondheidsberoepe (Wet 56 van 1974) wat hierdie jaar afgedwing word, moet dokters wat buite die land gekwalifiseer het en terugkeer, eers ‘n eksamen van die Gesondheidberoepsraad van Suid-Afrika (GBRSA) aflê voordat hulle kan praktiseer.

Die regering probeer om die tekort aan dokters aan te vul deur studente na Kuba te stuur waar miljarde rande bestee word terwyl die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, self erken daar is nie internasionale eenvormigheid met die opleiding van dokters nie.

Dokters wat in Kuba opgelei is, is nie opgewasse vir die eiesoortige probleme in Suid-Afrika nie. Hulle is nie in staat om ‘n keisersnit te doen, veilige narkose toe te dien of frakture te behandel nie. Ook nie om gevorderde tuberkulose of MIV-infeksie te behandel nie.

In stede daarvan om miljarde aan Kubaanse opleiding te bestee, kan die staat eerder mediese opleiding plaaslik uitbrei. Die rede waarom dit nie gedoen word nie, is ‘n blinde, historiese lojaliteit teenoor Kuba wat vir die regering swaarder weeg as die belange van siek mense in Suid-Afrika.

Mense sterf weens die feit dat dokters wat in Kuba opgelei is, nie opgewasse is vir plaaslike omstandighede nie, veral nie in afgeleë, landelike gebiede nie.

Die uiteinde van ontevredenheid rondom die toepassing van die regulasie wat eksamen van die GBRSA vereis, sal waarskynlik in die howe beslis word ten koste van belastingbetalers wat weereens sal moet opdok vir die onbevoegdheid en foute van die regering.

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.