(Parlementêre debat: Covid-19-inentingsprogram)
Met vandag se parlementêre debat oor die Covid-19-inentingsprogram is die VF Plus se vrae aan die regering eenvoudig: Watter program? Waar is die program? En waarom word dit geheim gehou indien dit wel bestaan?
Hierdie vrae is noodsaaklik, want die totale warboel wat hom die afgelope twee maande afgespeel het rondom die verkryging en beskikbaarstelling van die entstof, kan beswaarlik ‘n plan genoem word.
Suid-Afrika is steeds in die donker gehul oor die detail van die program. Selfs die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid weet nie wat dit behels nie.
Van ‘n volledig plan is daar nie sprake nie; bloot die verskillende fases wat ter elfder ure aangekondig word en wanneer provinsiale regerings hul twyfelagtige planne aan die portefeuljekomitee voorlê.
Die enigste eerlike poging het gekom van Limpopo wat erken het hy het eintlik nie ‘n plan nie en dat hy sal sukkel om ‘n volledige entstofprogram uit te voer.
Die tekens van die program se mislukking is reeds gesien by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria waar 2 000 gesondheidswerkers Sondag om ‘n velerlei redes nie ingeënt kon word nie.
Die VF Plus het in dié verband lank reeds gewaarsku dat die elektroniese stelsel vir die skedulering van afsprake om ingeënt te word, nie vertroue inboesem nie. Baie mense het nie toegang tot die internet nie en die gebeure by Steve Biko het hierdie probleem onderstreep.
Die party het ook gewaarsku dat die regering, gegewe sy onbevoegdheid en wydverspreide korrupsie soos nou weer in die Covid-19-verkrygingsprosesse uitgewys is, nie alleen die program kan bestuur nie, maar dat hy die kundigheid van die privaatsektor moet gebruik.
Die regering wou aanvanklik nie, maar omstandighede dwing hom nou om dit te doen om ‘n totale chaos rondom inenting af te weer.
Provinsies wat daartoe in staat is, moet wel toegelaat word om voort te gaan met hul programme om so veel as moontlik mense die geleentheid te gee om ingeënt te word.
Die huidige deurmekaarspul, wat ongelukkig talle menselewens in die gevaar stel, onderstreep opnuut dat die ANC-regering nie in staat sal wees om die nasionale gesondheidsversekering suksesvol te bedryf nie.
Die land het tot in 1993 sy eie entstowwe vervaardig. Dit word nie meer gedoen nie aangesien die ANC, soos met alle ander ondernemings waarin hy beheer het, ook hierdie belangrike sektor totaal laat verval het.