Premier David Makhura het vandag met sy provinsiale rede met die opening van die Gautengse wetgewer geen vertroue ingeboesem met sy oorsig oor die provinsie se probleme en hoe die ANC dit gaan aanpas nie.
Sy idees was bloot 'n voortsetting van die ideologiese gekheid waarmee die provinsie oor tyd op sy knieë gedwing is.
Die grootste waarskuwingslig wat aangegaan het, is trouens die feit dat die ANC-regering en amptenare tydens die pandemie die gekke-insig geopenbaar het om meer en vinniger te steel en hul bankrot sosialistiese ideologie eerder te verskerp as om dit te bevraagteken.
Die ANC-regering het selfs erken dat hy die pandemie gebruik om die ekonomie te herstruktureer deur toe te laat dat wit ondernemings vou weens die doelbewuste weerhouding van ekonomiese hulp. Sodanige optrede grens aan die internasionaal-regtelike misdryf van apartheid en die VF Plus sal 'n ondersoek moet doen of 'n klag teen die regering geregverdig sou wees.
Daar is geen twyfel nie dat die provinsie onder die ANC nog verder gaan verarm en die ekonomie sy kreeftegang sal voortsit wat ekonomiese ongelykheid gaan verhoog. Die grootste verhoging in ekonomiese ongelykheid ontvou juis tussen swartes onderling en tussen alle rasse teenoor die bruin bevolking.
Min word gedoen om onder die armes in die algemeen nuwe permanente werksgeleenthede te skep, behalwe in die staatsdiens waar swartes oorverteenwoordig is en alle minderhede onderverteenwoordig is.
Die ware groot ongelykheid wat tans ontvou, is tussen die swart middelklas en die swart armes en daarom is die ANC se gehamer op wittes as die probleem nie net rassisties nie, maar ook 'n verdoeseling van die werklike oorsaak van ekonomiese ongelykheid, naamlik die ANC se sosialistiese en rassistiese beleid.
Daar moet werklik nou 'n klem geplaas word op sinvolle en bewese ekonomiese beleid wat ekonomiese groei kan bewerkstellig deur die mark te bevry van verstikkende regulasies en rasse-diskriminasie.
Alhoewel daar onlangs groot beleggings gemaak is in die motorvervaardigingsektor, moet ‘n mens verstaan dat, alhoewel dit 'n positiewe bydra lewer, hierdie nie werklike beleggings is waar nuwe beleggers Gauteng as 'n sinvolle belegging-bestemming beskou nie.
Dis presies wat skort op die oomblik. Die regering behoort dit baie aantreklik te maak vir buitelandse beleggers om die risiko te waag om in Gauteng te belê, wat tans nie die geval is nie, juis weens die ANC se ekonomiese beleid en korrupsie.
Nog 'n vraag waarmee die VF Plus die ANC-regering mee gaan konfronteer, handel oor die voorgenome Informele Nedersetting Ekonomiese Ontwikkelingswet.
Die wetsontwerp stel 'n informele nedersettingfonds in die vooruitsig wat klein ondernemings in die gebiede sal help befonds. Die groot vraag is natuurlik of wit- en bruinmense wat in informele nedersettings woon ook in aanmerking sal kom vir die ontwikkelingshulp?
Alhoewel die VF Plus teleurgesteld is oor die premier se toespraak, was dit te verwagte.
Die VF Plus besef dat daar 'n nuwe wetmatigheid onder die ANC-bewind ontstaan het wat te alle tye geldig is, naamlik die “wet op die voortgesette wanbestuur en kriminaliteit van die ANC".
Die wet is op sosiale vlak soortgelyk aan Newton se eerste wet van beweging. Die ANC sal nie van rigting verander sonder om van iewers 'n ander mag te ervaar wat op hom inwerk nie. Daardie mag sal nie van binne die ANC self kom nie en die VF Plus sal aanhou om sy rol te speel om daardie mag van buite te wees totdat die ANC uit die kussings gelig word.