Die gevolge van die ANC en president Cyril Ramaphosa se besluit oor onteienings sonder vergoeding kan rampspoedige gevolge vir die land inhou indien die regering en die polisie nie ferm en daadwerklik ingryp nie.
Grondbesettings het sedert verlede week landwyd voorgekom en koerantopskrifte vandag lui dat die kusdorp Hermanus in die Wes-Kaap in ‘n “oorlogsone” omskep is nadat grondbesetters eiendom op die dorp, en selfs ‘n satelliet-polisiekantoor verwoes het.
Dit is die direkte gevolg van die pres. Ramaphosa en die ANC/EFF-besluit om die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, en die vraag moet gevra word of dit nie gedoen is om sekere politieke agendas te bevorder nie.
Die VF Plus het gewaarsku dat verwagtinge geskep word met die aanvaarding van die mosie van onteiening sonder vergoeding en dat die mense nie gaan wag vir die parlementêre proses nie, maar reg in eie hande sal neem en grondgrype begin uitvoer.
Pres. Ramaphosa het twee weke gelede met vraetyd in die parlement op ‘n direkte vraag van dr. Pieter Groenewald gesê onwettige grondbesettings sal nie geduld word nie en die polisie moet streng teen grondbesetters optree.
Die huidige stilte van regeringskant oor die besettings wys egter duidelik dat die mense op grondvlak van mening is dat hulle nou voor die voet grond kan beset. Die situasie wat geskep is, is uiters plofbaar en daar moet daadwerklik opgetree word om seker te maak dit raak nie buite beheer nie.
Die polisie het in sekere gevalle gewys dat hy wel bereid is om op te tree, maar in sommige gevalle kyk die polisie net toe en sit nou midde-in ‘n gevaarlike situasie wat die regering geskep het. Selfs polisiestasies word afgebrand wat eintlik simboliese verset is teen wetstoepassing.
Die regering het nou reeds male sonder tal gewys hy is nie bevoeg om op enige vlak te regeer nie, en die publiek kan met reg bekommerd wees dat die situasie buite beheer kan raak.
Dit is daarom van die grootste belang dat die buitewêreld op hoog gehou word van plaaslike gebeure. Dr. Groenewald was verlede week in België waar hy onder meer plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding en die gevolge daarvan met verskeie organisasies en belangegroepe bespreek het.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216