(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling)
Die ANC-regering besef duidelik nie die wesenlike gevaar wat ‘n sukkelende landboubedryf vir Suid-Afrika inhou nie. Landbou is in groot moeilikheid, en daarom Suid-Afrika ook. Dit kan nie langer so aangaan nie.
Die aansuiweringsbegroting vir landbou is tekenend hiervan. Een van die belangrikste hulpprogramme aan boere, wat direk met voedselsekerheid en hulp aan boere te make het, is met R1,8 miljard gesny. Dit wys dat die regering nie werklik belang stel in die opheffing van opkomende boere en voedselsekuriteit nie.
Die grootste probleem is nie net die ontoereikende begroting of selfs die verkeerde prioritisering te midde van ‘n pandemie nie. Dit is die ongeërgdheid van die departement en die regering met landbou in sy geheel. Dit blyk veral uit die ongeërgdheid om ‘n oplossing te vind vir die befondsing van boere in nood.
Die departement kon saam met nasionale tesourie ‘n plan beraam om die Landbank weer funksioneel te kry of daar kon beplan word om iets soos ‘n landbou-kredietraad tot stand bring.
Die departement is ongeërg oor die toekoms van Suid-Afrika as ‘n droogtegeteisterde gebied en die regering is ongeërg oor die huidige droogte, want indien die regering en die departement ernstig was daaroor, sou die land nie tot 4 Maart moes wag vir die minister van samewerkende regering om die land tot ‘n droogte-rampgebied te verklaar nie.
Dan sou die adjunkdirekteur-generaal van die nasionale rampbestuursentrum onlangs nie onseremonieel aangekondig het dat die droogte nie meer as ‘n ramp beskou word nie. Die departement sou nie net praat nie, maar sou ‘n manier gevind het om boere in die voortslepende droogtes by te staan.
Wat plaasaanvalle aanbetref het president Cyril Ramaphosa verlede week tydens die presidensiële Imbizo opnuut gesê plaasaanvalle en -moorde is gewone misdaad. Die VF Plus se boodskap aan die president is dat hy verkeerd is. Dit is nie gewone misdaad nie.
Die party herhaal daarom sy versoek dat plaasaanvalle en -moorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Elke plaasaanval bedreig voedselsekerheid en het werksverliese tot gevolg.
Die tyd het aangebreek dat die ANC-regering ernstig raak oor landbou. Dat die voorstelle en kwellinge van ‘n party soos die VF Plus ernstig opneem word. Die VF Plus wil elke boer in die land bedank vir hul onbaatsugtige bydrae tot voedselsekerheid nieteenstaande ‘n vyandige regering.
Navrae: 082 490 6663