Suid-Afrika se hoop dat president Cyril Ramaphosa die Zondo-kommissie se verslag na staatskaping as instrument gebruik om korrupsie en bedrog in die openbare sektor behoorlik vas te vat, is op tipiese Ramaphosa-wyse verydel.
Die president het mooi woorde gebruik, maar in werklikheid voor die handliggende beginsels van goeie regering uitgelig. Dié beginsels moes nog altyd in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie gegeld het.
Die president het ook baie stappe herhaal wat hy reeds in 2018 aangekondig en in plek gestel het. Dié stappe het egter gefaal om korrupsie tydens die Covid-19-pandemie te voorkom.
Die president het tewens sover gegaan as om te sê hy alleen het die finale besluit oor die uitvoering van enige aanbeveling van die Zondo-verslag.
Daarbenewens sal enige optrede teen ‘n lid van die uitvoerende gesag by die parlement berus wat beteken alle lede van die kabinet sal steeds die volle beskerming van die ANC geniet.
Die president het geen besluit geneem of stap aangekondig wat ’n enkele staatskaper onrustig gaan laat slaap nie. Dit is uiters teleurstellend.
’n Voorbeeld van die president se vae woordespel is sy aankondiging dat daar ondersoek ingestel moet word na die Zondo-kommissie se aanbeveling dat ’n verdere kommissie ingestel moet word om die gebeure in Prasa wat nog nie ontbloot is nie, verder te ondersoek.
Dit is nie goed genoeg om bloot die stoele op die Titanic se dek rond te skuif nie. Hy kon en moes as voorbeeld hieroor reeds ’n besluit geneem en dit vanaand aangekondig het.
Samevattend het die president verder bloot die bevindings van die Zondo-kommissie herhaal met die dreigement dat korruptes “nêrens meer het om weg te kruip nie”.
Hiermee saam is ’n oorsig gegee van die werk wat wetstoepassingsagentskappe doen en stappe wat reeds goed bekend is.
Dit sal geen korrupte wat by staatskaping betrokke was, skielik ‘n slaaplose nag besorg nie.
Soos wat duidelik uit regter Raymond Zondo se verslag blyk, het staatskaping uiteindelik die hele ANC verkanker.
Dit is hoofsaaklik veroorsaak deur die regering se beleid van kaderontplooiing waarvan pres. Ramaphosa aan die hoof gestaan het.
In reaksie op die kommissie se werk van anderhalfjaar teen ’n koste van rondom ’n miljard rand, stel die president eindelik net weer die ANC aan om die belangrikste besluit oor die verslag te neem.
Dit is dat die regering onder wie staatskaping ontstaan en floreer het en wat eers die vorige president Jacob Zuma en nou ook die huidige president beskerm het, homself verantwoordbaar moet hou. Dit sal nie gebeur nie.