fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa moet nou duidelikheid gee oor regering se pad vorentoe

Suid-Afrika het ná 25 jaar genoeg gehad van leë beloftes oor die land se toekoms en die tyd het aangebreek dat praktiese en uitvoerbare planne op die tafel geplaas word om hoop te bring deur probleme kaalvuis te takel en sodoende ekonomiese groei te bewerkstellig.

President Cyril Ramaphosa se staatsrede môre is van die allergrootste belang aangesien dit sal wys of die president werklik wil optree in landsbelang en of die ANC weer voor die land en sy mense gestel gaan word.

Ekonomiese groei is nie onderhandelbaar nie. Die president sal duidelike planne moet neerlê oor hoe sy regering beplan om groei te bewerkstellig en daarmee saam die groeiende werkloosheidsprobleem aan te spreek.

Onlosmaaklik hieraan is beleidsekerheid. Sonder beleidsekerheid sal beleggersvertroue nie herstel word nie en die ekonomie sal nie groei nie.

Die VF Plus verwys hier in besonder na sake soos privaat-eiendomsreg wat bedreig word deur onteiening sonder vergoeding, die toekoms van die Reserwebank waaroor die ANC tot nou toe vanuit eie geledere groot verwarring geskep het en die toekoms van sekere staatsondernemings wat ‘n groot finansiële las op die staat en die belastingbetaler plaas.

Ander brandpunte wat aangespreek moet word is misdaad en die hoë voorkoms van diensleweringsbetogings landwyd. Die president sal ook moet antwoord op die vordering met die beloftes wat hy met sy staatsrede in Februarie vanjaar gemaak het rakende sake soos werkskepping, skole en onderwys.

Oor sy administrasie sal die president die rigting moet aandui van sy nuwe, hersgestruktureerde kabinet wat nuwe departemente gevorm het waarvan die mandate duidelik uitgespel sal moet word.

Pres. Ramaphosa is egter in ‘n politieke knyptang aangesien daar onstabiliteit in sy party is met senior ANC-leiers wat beleidsrigtings gebruik as politieke wapen om ‘n interne stryd mee te voer.

Die VF Plus hoop saam met alle regdenkende Suid-Afrikaners dat hierdie staatsrede minder van ‘n verkiesingsbelofte-staatsrede van blote populistiese retoriek sal wees en dat werklike planne op die tafel geplaas sal word om sekerheid oor beleid te bewerkstellig.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.