Terwyl die land steier onder die afgelope week se misdaadvlaag wat die wrede dood van ‘n vierjarige kleuter in ‘n motorkaping insluit, is ‘n raadslid van die IVP die afgelope naweek in Mogale City, tydens ‘n openbare vergadering koelbloedig doodgeskiet toe hy ‘n oproerige skare tot bedaring probeer bring het.
Amanda de Lange, raadslid van die Vryheidsfront Plus vir Mogale City, sê die dood van raadslid Patrick Ngubane is ‘n geweldige skok.
“Die voorval bewys dat ‘n lewe in Suid-Afrika waardeloos is. Ek ken Patrick al etlike jare, vanaf die tyd toe ek as GPF-voorsitter in die gebied gedien het. Hy was ‘n saggeaarde man en het almal met respek behandel,” sê De Lange.
Volgens de Lange voel raadslede dikwels onveilig wanneer hulle amptelike pligte nakom.
“Hooggeplaaste amptenare en regeringslui word voorsien van veiligheidswagte en gepantserde voertuie. Nogtans is dit nie buitengewoon vir senior politici om gemeenskapsvergaderings te kanselleer wanneer hulle vrees vir hul veiligheid nie.
“Daar word egter van raadslede verwag om man-alleen plofbare situasies op te los, soos in die geval van raadslid Patrick Ngubane, wat in die proses met sy lewe geboet het.
“Die toetrede van radikale faksies tot die politiek het baie te doen met geweld tydens gemeenskapsvergaderings. Politici is veronderstel om landsburgers te beskerm, tog gebeur die teenoorgestelde en word onrus gestook tydens die byeenkomste,” sê De Lange.
Die Vryheidsfront Plus het sy medelye uitgespreek met die familie en vriende van Ngubane.
Amanda de Lange
VF Plus Raadslid: Mogale City
Kontak : 071 604 9498