fbpx
Vryheidsfront Plus

R90 miljoen-jeugontwikkelingsfonds in Mpumalanga moet aan alle jeug beskikbaar gestel word, nie net aan sekeres

Die VF Plus-jeug in Mpumalanga het gister aan die provinsiale wetgewer se jeugparlement se debat oor jeugwerkloosheid en die gebrek aan werksgeleenthede in die provinsie deelgeneem.

Programme soos Mpumalanga se jeugontwikkelingsfonds en die nasionale landelike jeugdienskorps, wat begin is om die ontwikkeling van die jeug 'n hupstoot te gee, het tot dusver geen gemete resultate op gelewer nie en die belastingbetaler miljoene rand gekos.

Jeugontwikkeling kan slegs plaasvind indien die regering ‘n gunstige omgewing vir ekonomiese groei skep.

Die VF Plus-jeug is dus skepties oor die premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, se aankondiging van 'n nuwe fonds van R90 miljoen vir jeuggedrewe-ondernemings en -ontwikkeling.

Jeugwerkloosheid is volgens die jongste statistiek tans 64%. Selfs voor die pandemie het Suid-Afrika die hoogste jeugwerkloosheid ter wêreld gehad. Dit is daarom belangrik dat die jeug met die nodige vaardighede toegerus word.

Deur vir die jeug die nodige vaardighede te leer bemagtig dit hulle om ‘n bydrae te lewer tot Mpumalanga se ekonomie en die toekoms.

Die jeug is bereid om tot die ekonomie by te dra. Hulle is die leiers van môre en wil 'n beter toekoms skep. Daarom moet daar gelyke geleenthede vir die jeug geskep word deur ekonomiese groei.

Daar moet toegesien word dat die nuwe fonds nie soos ander jeugontwikkelingsprogramme geen resultate lewer nie.

Die VF Plus sal verder eis dat die fonds aan alle jeug beskikbaar gestel word en dat ras, geslag en kultuur nie die bepalende faktore sal wees nie, maar egter sosio-ekonomiese omstandighede.

Die VF Plus-jeug in Mpumalanga doen ‘n beroep op alle jong mense om op te staan vir hul regte, saam te staan om toe te sien dat jeugontwikkeling ‘n sukses is en sterk te staan teen diskriminasie wanneer die fonds geïmplementeer word.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.