President Cyril Ramaphosa het gister (Dinsdag 28 Januarie 2025) nog ’n wet geteken, die keer die wet op bewaring en ontwikkeling van landbougrond.
Die wetsontwerp het sedert Mei 2024 op sy tafel gelê.
Teen die agtergrond van die Onteieningswet is die VF Plus bekommerd dat hierdie wet gebruik kan word om die landbou se produksiebesluite in die hande van die staat te plaas.
Hierdie wet is reeds in Mei 2024 na die president vir ondertekening verwys en is een van die wette waarvan die president gesê het dat hy nog ’n pen soek om dit te teken.
Die doel van die wet is om landbougrond te beskerm teen ondeurdagte residensiële-, industriële- en veral mynbou-ontwikkeling. Veral oppervlakmynbou (“strip mining”) verwyder die produktiewe bogrond en ontgin die delfstowwe dieper in die grond. Die gevolge is soms onomkeerbaar.
Die wet maak voorsiening vir provinsiale landbousektorplanne en stel beginsels wat in die alternatiewe aanwending van landbougrond gevolg moet word. Dit vereis ook dat lyste gemaak word van ontoelaatbare bedrywighede, asook bedrywighede wat sonder toestemming kan voortgaan.
Sekere landbou-organisasies is bekommerd dat hierdie bepalings daartoe kan lei dat die staat, deur komitees waarvoor die wet ook voorsiening maak, produksiebesluite van individuele ondernemings kan voorskryf, byvoorbeeld watter gewasse die onderneming mag aanplant.
Verdere kommer spruit uit die streng strawwe vir die nienakoming van die wet. Dit moet teen die agtergrond gesien word van roekelose ondernemers wat met nie-landboubedrywighede op landbougrond kan begin en die gevolglike boete bloot as ’n uitgawe verreken.
Die VF Plus sien die moontlikhede vir misbruik van hierdie wet raak. Daarom moet boere, in hul persoonlike hoedanigheid en in georganiseerde verband, aan die openbare deelnameprosesse wat die wet voorskryf, deelneem.
’n Regering wat dink eiendom kan met ’n nul vergoeding onteien word, kan beslis nie ’n vrye hand gegee word om landboubesluite te sentraliseer nie.


