fbpx
Vryheidsfront Plus

Premier van Mpumalanga kan nie rekenskap gee van meer as R270 miljoen wat onreëlmatig bestee is

Twee departemente van Mpumalanga het meer as R270 miljoen tydens die 2019/2020-finansiële jaar aan ‘n eenheid betaal wat sedert 2018 nie meer bestaan nie en die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtshweni-Tsipane, trek bloot haar skouers op wanneer sy daaroor gevra word.

Die VF Plus het tydens ‘n vraag en antwoord-sessie in die wetgewer aan die premier gevra om te verduidelik waarom R182 miljoen vanuit die departement van gesondheid en R96 miljoen vanuit die departement van maatskaplike ontwikkeling se koffers aan die Eenheid vir Vinnige Implementering (EVI) betaal is terwyl die eenheid sedert 2018 nie meer bestaan nie.

Volgens die premier is die VF Plus se vrae in dié verband nie relevant nie omdat die eenheid ontbind is. Sy het geweier om uit te brei oor waaraan die fondse bestee is.

Ouditverslae van die 2019-20-finansiële jaar vir beide dié departemente dui aan dat dié bedrae wat aan die EVI betaal is, onreëlmatig bestee is.

Die EVI is gestig deur die voormalige direkteur-generaal van Mpumalanga, dr. Nonhlanhla Mkhize, ná 'n kabinetsbesluit om haakplekke te verwyder om infrastruktuurprojekte soos HOP-huise, skole, paaie en klinieke te bespoedig. Die eenheid was in die premier se kantoor gesetel.

Luidens mediaberigte in 2018 het provinsiale amptenare tussen 2015 en 2018 onder die dekmantel van die EVI met meer as R300 miljoen weggekom voordat die ouditeur-generaal (OG) voorgestel het dat die eenheid ontbind omdat dit as ‘n voertuig vir onreëlmatige besteding beskou is.

Die VF Plus sal die saak nie net daar laat nie en sal aanhou om vrae te vra totdat die waarheid ontbloot word en die skuldiges aan die pen ry.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.