Die premier van Gauteng, David Makhura, sal daadwerklik moet ingryp by die krisis in Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging). Hierdie krisis is besig om handuit te ruk nadat die munisipaliteit in algehele wanorde gedompel is en nie in staat is om sy agterstallige rekening van R419 miljoen by Randwater te betaal nie.
Randwater het aangekondig dat hulle die krane na Emfuleni vir die vierde keer hierdie jaar gaan toedraai. Die Emfuleni-munisipaliteit het in Januarie vanjaar reëlings met Randwater getref om agterstallige skuld af te betaal, maar eerbiedig nie die ooreenkoms nie.
Die VF Plus in Gauteng wil weet waarom Emfuleni nie sy agterstallige skulde kan betaal nie, dit terwyl die burgemeester, Jakob Khawe, en ander ampsdraers in die munisipaliteit groot salarisse ontvang omrede die Emfuleni-munisipaliteit as ‘n graad 6-munisipaliteit geklassifiseer word wat gelykstaande is aan ‘n metro.
Die VF Plus wil ook weet wat die munisipaliteit met sy geld, wat hy maandeliks van getroue belastingbetalers ontvang, maak.
Die verskoning van die munisipaliteit dat baie mense in die gebied weens die hoë werkloosheidsyfer nie kan betaal nie, is onwaar aangesien munisipale verslae toon dat die munisipaliteit ‘n inkomste ontvang van 61% van die belastingbetalers op ‘n maandelikse basis. Tydens die maande van Junie/Julie 2017 het die belastingbetalers vir Emfuleni ‘n inkomste van R402 miljoen ingebring.
Die VF Plus is ook bekommerd dat Emfuleni die afgelope 2017/18 finansiële jaar slegs 63% van sy begroting spandeer het. Dit is volgens ‘n verslag wat op 26 Maart 2018 voor die Gautengse wetgewer gedien het.
Nasionale tesourie het aan die begin van die boekjaar ‘n bedrag van R181 645 000 geallokeer waarvan Emfuleni slegs R113 923 000 spandeer het. Dus 37% van die begroting wat op infrastruktuur gespandeer moes word, is nie gedoen nie. Laasgenoemde verduidelik waarom werkers by die Emfuleni se watereenheid staak omrede hulle al vir meer as twee jaar wag vir beskermende oorpakke, waterskoene en handskoene. Dit verduidelik ook die rede waarom elf rioolpompstasies sedert gister nie inwerking is nie en veroorsaak dat onbehandelde riool nou binne in die Vaalrivier inloop.
Premier Makhura sal hierdie krisis dadelik moet ontlont anders kan Eskom ook dalk begin om dienste na Emfuleni te sny weens uitstaande rekeninge van R311 miljoen wat teen 16 April 2018 betaal moet word.
Emfuleni sit ook reeds met agterstallige Eskom-bedrae van R170 miljoen. Van hierdie agterstallige bedrae moet tussen 19 April 2018 en 5 Mei 2018 betaal word.
Die VF Plus het reeds ‘n gesprek aangevra met die nuwe LUR van plaaslike regering in Gauteng, Uhuru Moila, om die Emfuleni-krisis en die probleme rondom Mogale City te bespreek.
Die VF Plus is van mening dat indien die premier nie dadelik by die Emfuleni-krisis ingryp nie, die munisipaliteit binnekort in algehele donkerte en droogte gedompel gaan word waar ‘n humanitêre krisis rondom gesondheid kan ontstaan.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347