Die VF Plus neem kennis van die aanstelling van Job Mokgoro as premier van Noordwes. Enige kandidaat is beter as die voormalige premier, Supra Mohumapelo, wie se termyn gekenmerk was deur korrupsie, swak bestuur en die algehele verval van die provinsie.
Mokgoro het ‘n reuse taak wat op hom wag met die regruk van die provinsie se administrasie en die uitwissing van die diepgewortelde korrupsie wat deur elke provinsiale departement strek.
Nie net begin Mokgoro sy ampstermyn met dié reuse agterstand nie, maar is Mahumapelo, as provinsiale voorsitter van die ANC, steeds daar om oor sy skouer te loer. Dit sal ‘n jammerte wees as Mokgoro slegs aangestel is as pion om die inwoners van Noordwes met sy huidige positiewe beeld te paai terwyl Mahumapelo steeds die toutjies in die provinsiale regering trek.
Die VF Plus sal Mokgoro met ‘n valkoog dophou en hom aanspreeklik en verantwoordbaar hou vir die bestuur en administrasie van die provinsie. Noordwes se mense verdien behoorlike sterk leierskap sonder korrupsie en magsvergryp.
Kontakbesonderhede: 076 400 8132