Die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid sal dringend moet vergader met die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, oor probleme rondom entstowwe vir Covid-19 en hospitale. Daar kan nie gewag word tot die middel van hierdie maand om hieroor te praat nie.
Die VF Plus is bekommerd oor die breekspul wat volgens mediaberigte in mediese geledere dreig oor Suid-Afrika se inentingsplanne teen die virus. Dit kan allermins in hierdie stadium bekostig word en moet ten alle koste vermy moet word ter wille van menselewens en die toekoms van Suid-Afrika.
Kommunikasiegapings is tans aan die orde van die dag van ministerie-kant en die portefeuljekomitee vir gesondheid sal dringend met die ministerie moet vergader om hierdie probleem op te los.
Dit sal daartoe bydra dat korrekte inligting rakende die verkryging van die entstof teen Covid-19 asook die huidige stand van hospitale en gesondheidswerkers in die land, aan Suid-Afrikaners deurgegee kan word.
Vir die portefeuljekomitee om te wag tot middel Januarie 2021 vir die parlement se program om af te skop vir die jaar, gaan te laat wees aangesien daar reeds ‘n krisis is wat dringend beheer en bestuur moet word.
Die minister sal dringend voor die komitee moet verskyn om kwellende vrae te beantwoord asook om duidelikheid oor verskeie aspekte hieroor te verskaf. Suid-Afrika is tans in ‘n ernstige krisis wat oornag buite beheer kan raak en die kwessie moet dringend behandel word.
Te veel gerugte doen die rondte op sosiale media-platforms oor bogenoemde aspekte wat onsekerheid en paniek onder Suid-Afrikaners saai en dit kan slegs opgelos word indien eerstehandse inligting gekommunikeer word.
Die portefeuljekomitee vir gesondheid moet te alle tye ingelig word van die stand van sake sodat lede van die parlement hul oorsigrol kan vervul en doeltreffend met kiesers kan kommunikeer.
Parlementslede wat op hierdie komitee dien is tans self in die donker oor verskeie aspekte en die vergadering moet daarom dringend plaasvind.