fbpx
Vryheidsfront Plus

Rustenburgers lei onder arbeidsdispuut wat kragtoevoer beïnvloed

Die VF Plus het vandag met die burgermeester van die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein-A, Marikana, Phatsima, Rustenburg, Tlhabane), Mpho Khunou, vergader om ‘n oplossing te vind vir die kragprobleem in dié munisipaliteit wat glo sy oorsprong het in ‘n arbeidsgeskil. Kontrakteurs gaan moontlik aangestel word om die krisis te beredder.

Daar is sedert 30 Desember verlede jaar grootskaalse kragonderbrekings in sekere dele van die dorp. Die vermoede bestaan dat dit veroorsaak is deur sabotasie wat verband hou met arbeidsgeskille tussen die munisipaliteit se direksie en werknemers van die elektriese departement.

Volgens Khunou het die staking begin sonder enige waarskuwing. Die direksie het met die werkers vergader en dit het toe aan die lig gekom dat daar ontevredenheid is oor oortydbetaling en risiko-vergoeding.

‘n Ondersoek na die oortydkwessie het getoon dat bedrog moontlik gepleeg word met oortyd-eise en die direksie het besluit om geen oortyd te betaal nie.

Samesprekinge rakende die nuwe skofstelsel word ook gedurig in die wiele gery deur werkersvakbonde. Indien die skofstelsel in werking gestel word, sal oortyd uitgeskakel word.

Risiko-vergoeding kan ook nie betaal word nie aangesien daar nie begroot is daarvoor nie en dit ‘n onreëlmatige uitgawe sou wees.

Volgens die direksie is die regte prosedures ook nie gevolg tydens die staking nie en dit is onwettig verklaar. Die werkers het onder meer nie die staking deur ‘n vakbond gereël soos vereis word nie.

Net die volgende dag is ‘n grootskaalse kragonderbreking regoor Rustenburg ondervind. Die bewering is dat iemand kwaadwillig substasies gesaboteer het. Daar is op selektiewe wyse kabels gesteel wat die vermoede versterk dat dit gedoen is deur ‘n persoon wat weet hoe om die stelsel te saboteer. Dit gaan deur ‘n eksterne span ondersoek word.

Die situasie is totaal onaanvaarbaar en die VF Plus sal deurentyd druk op die munisipaliteit plaas om spoedige oplossings te kry. Die feit dat werknemers van Rustenburg die dorp gyselaar hou, kan nie geduld word nie.

Die VF Plus simpatiseer met inwoners en sake-ondernemings wat groot skade gely het en ongerief moet verduur weens die staking. Die situasie is swak hanteer wat ‘n bewys is van die onbeholpenheid van die ANC-beheerde munisipaliteit.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.