fbpx
Vryheidsfront Plus

Polokwane-inwoners ly dors terwyl direkteur en sy span voete sleep

Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die direkteur van die Polokwane-plaaslike munisipaliteit se departement vir water en sanitasie, Monyamane Makoti, voete sleep met die oplossing van die waterkrisis in Polokwane/Pietersburg terwyl inwoners vergaan van die dors.

Die VF Plus het met ‘n munisipale water- en sanitasiekomiteevergadering op 7 Oktober gevra om ‘n resolusie om openbare krane op die dorp toe te draai en dit net beskikbaar te stel vir drinkwater. Brandkrane moet ook geseël word en boetes moet uitgereik word aan onwettige karwassers en straatsmouse om hulle te ontmoedig om water te mors.

Die huidige waterkrisis wat dié munisipaliteit ervaar, het nie oornag ontstaan nie. Swak beplanning van munisipale kant speel ‘n groot rol. Infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe wat nie in stand gehou word, dra by tot die probleem.

‘n Groot aantal waterlekkasies word nie herstel nie, wat water verlore laat gaan. Daar is oënskynlik geen kundiges op die gebied van waterbestuur in Polokwane nie.

Buiten dat die gewone waterbronne besig is om op te droog, het die sink van boorgate om toegang tot ondergrondse water te verkry om die normale bronne aan te vul, agterweë gebly.

Daar word ook eers in die 2021/22-boekjaar voorsiening gemaak vir die aankoop van watertenkwaens vir die munisipaliteit. Watertenkwaens word nou ten duurste gehuur van ander munisipaliteite en provinsies om water aan geraakte gebiede te verskaf.

Nog ‘n groot probleem is die waterpyplyn wat deur informele nedersettings na die dorp loop en gereeld beskadig word deur mense wat water steel. Die verskuiwing van die pyplyn vind tans plaas, maar dit sal eers aanstaande jaar voltooi wees.

Intussen kan inwoners nie staatmaak op die watertenkwaens om volgens ‘n skedule, waarop die VF Plus aandring, water te verskaf vir sanitasie en ander huishoudelike doeleindes nie.

Die beheer van die watertenkwaens laat ook veel te wense oor omdat daar nie behoorlike beheer by die waterpunte is nie. Daar is boonop klagte deur inwoners dat hulle water moet koop by die watertenkwaens alhoewel die water wat aan inwoners verskaf word volgens die spesifieke watertenkwa se register op hul munisipale rekeninge moet verskyn.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die waterkrisis aan te spreek veral in aanloop tot die Desember-vakansie en die warm somermaande wat voorlê.

Toegang tot skoon en voldoende water is ‘n grondwetlike reg en die VF Plus sal toesien dat daardie reg deur die Polokwane-munisipaliteit eerbiedig word.

Die party doen intussen ‘n ernstige beroep op inwoners om gehoor te gee aan die waterbeperkings en om nie water onnodig te vermors nie.

Navrae: 076 538 9520

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.