Meyerton se polisiehoof, kol. M. Lepitla, is verlede week uit sy pos ontslaan nadat die VF Plus ‘n klag teen hom by die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, ingedien het.
Kol. Lepitla het in Mei verlede jaar ‘n direktief aan Meyerton-polisielede uitgereik dat geen dossiere rakende sekere sake geopen mag word nie. Daarvolgens sou sake soos aanranding met die doel om ernstig te beseer, gewone aanranding, opsetlike saakbeskadiging en diefstal nie geopen mag word alvorens daar ‘n verdagte in die saak genoem is nie.
Die VF Plus het lt.genl. Mawela gevra waarom die direktief uitgereik is en indien dit toegepas word, hoe dit misdaadstatistiek gaan beïnvloed.
Die direktief beïnvloed ook die werksaamhede van die speurdiens.
Die saak teen kol. Lepitla is intern verhoor waarna hy ontslaan is.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe verkeerde direktiewe van polisiekantoor-bevelvoerders misdaadslagoffers benadeel nie.
Slagoffers van misdaad moet in alle opsigte die geleentheid gegun word om ‘n saak by die polisie aanhangig te maak en die nodige ondersteuning van die polisie te kry om die misdaad op te los.


