Die verval van paaie in die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair) wys hoe die ANC misluk as regering.
Dit kan slegs aangespreek word indien die munisipaliteit kundige kontrakteurs aanstel en meer geld daarvoor begroot.
Paaie is een van verskeie faktore waaraan ‘n munisipaliteit moet aandag gee om klein sake-ondernemings te help om op die been te kom en te groei.
Die VF Plus het die afgelope naweek oorsigbesoeke by verskeie paaie gedoen.
Die meeste is totaal onbegaanbaar, plek-plek weggespoel of groot dele is onder water na die laaste weke se hewige storms.
Die roetes sluit in: die Lothair/Chrissiesmeer-pad (D268), Koolbank/ Roodewal- (D1264), Chrissiesmeer/Koolbank- (D1425), Sheepmoor/Roodewal (D1299), Transvalia- (D1106), Davel/Morgenzon, De Vereeniging- (D1148(5)) en Tafelkoppad (D2451).
Slaggate is tot 20cm diep en skade wat swaar voertuie veroorsaak het, veroorsaak dat die paaie eerder ‘n las as ‘n voordeel vir inwoners is.
Die rede vir die swak toestand van paaie is die onvermoë van die ANC om te regeer en te bestuur en die aanwending en onbevoegdheid van tenderpreneurs om onderhoudswerk te doen.
In die direktoraat van geboue en paaie berei ongekwalifiseerde persone tenders voor terwyl onkundiges in die tenderafdeling besluit wat op tender mag uitgaan.
Dit lei daartoe dat diensverskaffers tenders indien sonder behoorlike riglyne en toenemend bloot hul eie riglyne begin gebruik. Tenderriglyne word eenvoudig verontagsaam.
Dit laat Msukaligwa in ‘n situasie waar uitgawes van vorige jare nie betaal is nie en nuwe projekte nie aangepak kan word nie.
Veral paaie word agterweë gelaat en afgeskeep.
Die VF Plus dring daarop aan dat die LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, Mandla Ndlovu, die mees kritieke paaie saam met die VF Plus sal besoek.
Paaie is die hoofslagaar van die munisipaliteit se ekonomie. Daarsonder is ekonomiese groei nie moontlik nie.
Dit is tekenend van die ANC se totale onbevoegdheid om op enige vlak in Suid-Afrika sinvol te regeer.