fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-regering laat wolwe van finansiële verwoesting los op Suid-Afrikaanse belastingbetaler

Hoe meer die ANC misluk om sy mandaat as regering uit te voer, hoe groter word die las op die belastingbetaler om midde-in ‘n krimpende ekonomie daarvoor pa te staan.

Dit blyk uit antwoorde wat vanoggend gegee is op vrae van die VF Plus aan die minister van finansies, Enoch Godongwana.

Die vrae was onder meer met verwysing na Eskom se uitgawes vir diesel en die feit dat die kragvoorsiener gewone brandstofheffings hierop betaal om die land se ligte aan te hou.

Die VF Plus wou weet of Eskom kwytgestel kan word van brandstofheffings.

Die antwoord van mnr. Chris Alexon van die Nasionale Tesourie (NT) namens die minister was dat Eskom wel gedeeltelike korting van 50% op die algemene brandstofheffing kry.

Die VF Plus is van mening dat die algemene heffing soos met die POF-heffing totaal geskrap moet word.

Die heffing maak nie sin nie aangesien die staat Eskom in elk geval telkens moet red van agterstallige skuld. Dit sal Eskom ook help om die las van sy lopende uitgawes te verlig.

Die VF Plus wou ook weet of daar belastingverligting kan wees vir uitgawes wat die publiek moet aangaan om hulself en hul eiendom te beveilig.

Daar is met die begroting belastingverligting gegee vir die installering van sonpanele. Aangesien misdaad ‘n ewe groot probleem is wat die land teister, sal dit net regverdig wees om in hierdie opsig ook ‘n toegewing te maak.

Die antwoord van die minister was dat daar nie geld is om belastingverligting op sekuriteitsuitgawes toe te staan nie. Volgens hom moet beskikbare fondse eerder gebruik word om nuwe lede by die polisie aan te stel.

Die minister het selfs gesê belastingbetalers moet “aandring op waarde vir hul geld”. Dit is ironies genoeg die een ding wat geen belastingbetaler in Suid-Afrika kry nie.

Hierdie antwoord is teen die agtergrond van die feit dat die private sekuriteitsindustrie die polisiediens oorskadu wat mannebekrag aanbetref.

Volgens Businesstech (16 November 20212; “How many security guards vs police in South Africa”) dui statistiek van die regulerende owerheid van die Suid-Afrikaanse sekuriteitsbedryf (Psira) daarop hoe groot die misdaadprobleem in die land werklik is.

Luidens die berig was daar verlede jaar 2,4 miljoen geregistreerde sekuriteitsbeamptes in die land waarvan 565 540 werkend is asook 11 370 geregistreerde sekuriteitsmaatskappye.

Hierteenoor was daar net meer as 180 000 lede in die polisiediens.

Dié reuse sekuriteitsbedryf is om verskeie redes vir die regering uiters voordelig: Die bedryf skep werk en die regering vind baat by die ekonomiese stimulering wat dit bied.

Hierdie stand van sake is nie aanvaarbaar nie. Dit kom daarop neer dat die regering die wolwe wat die kudde verslind beskerm terwyl die wagters saam aan die etenstafel sit.

Die tyd het aangebreek vir ‘n regering wat werklik glo in waarde vir belastinggeld en diens aan al die mense van die land.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.