Die toestand van Vrystaatse munisipaliteite, lewensgevaarlike paaie, swak gesondheidsorg, werkloosheid en die effek van beurtkrag op dienslewering.
Dit is die probleme waaraan die premier, mnr. Mxolisi Dukwana, in sy provinsiale openingsrede moet aandag gee.
Dukwana neem die leisels oor van ‘n provinsiale regering wat die Vrystaat in die afgrond bestuur het. Sy grootste uitdaging binne die ANC-regering sal wees om die provinsie en sy mense se belange bo dié van sy party se selfdienende neigings en uitgediende beleidsrigtings te stel.
Dukwana moet die stand van finansiële bestuur en swak dienslewering in die provinsie se munisipaliteite aanspreek en dringend uitvoerbare planne op die tafel lê. Kundige amptenare moet aangestel word en behoorlike prestasie-evaluering van hierdie amptenare moet plaasvind.
Die VF Plus sal wil sien dat die premier nodige, maar ongewilde besluite neem, soos om van die LUR vir polisie, paaie en vervoer in die provinsie, mnr. William Bulwane, ontslae te raak.
Onder Bulwane se leiding is miljoene rand bestee op onsuksesvolle projekte wat veronderstel was om ‘n veilige padnetwerk vir die provinsie daar te stel.
Die provinsie se paaie is steeds in ‘n jammerlike toestand wat nie net tot lewensverlies lei nie, maar ook ‘n reuse impak op die provinsie se plaaslike ekonomie het.
Wat die stand van die provinsiale departement van gesondheid aanbetref, is daar te veel direkteure en senior bestuurders wat reuse salarisse verdien.
Dit terwyl daar ‘n tekort aan spesialiste soos ortopede en ander bekwame mediese personeel is.
Die premier moet aandui hoe hy jarelange swak instandhouding van klinieke en hospitale gaan omkeer. Staatspasiënte moet in haglike omstandighede met min tot geen hulpbronne behandel word en dit kan nie langer toegelaat word nie.
Werkloosheid is ‘n krisis. Die staat is verantwoordelik om 'n milieu te skep waarbinne werkskepping kan floreer.
Dit sluit in infrastruktuur waarin die ekonomie deur vryemarkbeginsels kan floreer.
Die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) plaas jare lank reeds druk op die provinsie se fiskus.
Rasbehepte beleidsrigtings soos SEB en regstellende aksie (RA) is net ‘n front om sekere ANC-kaders ryker te maak met die finansies wat benodig word vir werkskepping.
Die effek van beurtkrag op die provinsie se sosio-ekonomiese omstandighede is ‘n krisis.
Munisipaliteite bly gereeld in gebreke om kritiese dienste soos watervoorsiening te lewer.
Plaaslike ondernemings is onder druk om self kostes aan te gaan om duur energie-alternatiewe soos diesel vir kragopwekkers aan te koop om hul deure oop te hou.
Die premier is by magte om dringende stappe te neem om die provinsie minder afhanklik van die nasionale netwerk te maak. Dit moet geprioritiseer word
Die VF Plus sal ‘n diensleweringsgerigte provinsiale rede wil sien wat klem lê op werkskepping, infrastruktuurinstandhouding en -ontwikkeling en verantwoordbare bestuur van die provinsie se departemente en munisipaliteite.
Die ANC-regering het egter herhaaldelik gewys dat hy nie daartoe in staat is nie.
Die mense van die Vrystaat verdien beter as die ANC.