Die veiligheid van die inwoners van Gauteng word verder in gevaar gestel weens ‘n tekort aan enjinolie om polisievoertuie te versien.
‘n Omsendskrywe van die polisie is gister aan die sowat vyftien polisie-motorhawens in Gauteng gestuur oor die feit dat geen enjinolie beskikbaar is nie.
Die tekort het ontstaan nadat diensverskaffers nie betyds ‘n bestelversoek ontvang het nie.
Die tekort is problematies omdat enige werk aan ‘n voertuig wat enjinolie benodig, nie afgehandel kan word nie.
In Februarie vanjaar is aangedui dat meer as 1000 polisievoertuie buite werking is.
Polisiekantore in Laudium, Dube, Doornkop, Eersterust en Vaal Marina het elk net een voertuig beskikbaar.
Geen polisiekantoor kan met net een polisievoertuig suksesvol ‘n gemeenskap bedien en misdaad bekamp nie.
Die VF Plus het ‘n brief geskryf aan die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om verslag te doen oor die aantal voertuie in die onderskeie motorhawens, waarom daar ‘n tekort aan onderdele en olie ontstaan het en wat sy aksieplan is om voertuigprobleme in die provinsie reg te ruk.