Die afgelope naweek se aanval op ‘n bejaarde plaasvrou van Stellenbosch is skokkend en die polisie en die gemeenskap van die Wes-Kaap moet hande vat om te sorg dat plaasaanvalle nie ook ‘n algemene verskynsel in dié provinsie word nie, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se leier in die Wes-Kaap.
Dr. Mulder sê nadat die Wes-Kaap vir jare die euwel van plaasaanvalle grootliks ontkom het, was daar einde verlede jaar ‘n vlaag aanvalle wat nou voortgesit is met ‘n wrede aanval die afgelope naweek net buite Stellenbosch.
In dié voorval is mevrou Susan Joubert (87) van die plaas Aan-Den-Weg Sondagmiddag deur drie of vier mans aangeval nadat haar twee honde doodgesteek is. Sy is beroof en is beseer nadat haar juwele onder meer van haar afgestroop is.
Sowat twee maande gelede is ‘n boer van Klapmuts naby Stellenbosch, mnr. Joubert Conradie (47) op sy plaas Uitkyk doodgeskiet.
Twee weke voor dit is mnr. Mark Fagan (46) van Klein Dassenberg naby Philadelphia in ‘n aanval doodgeskiet.
Enkele weke voor dié aanval is ‘n boer van Ceres in die Koue Bokkeveld in sy plaaswinkel aangeval en verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hy het die aanval oorleef.
Dr. Mulder sê die Kaap hou lank reeds asem op oor die moontlikheid van plaasaanvalle wat tot dusver feitlik ongekend was in dié provinsie.
“Dit is in hierdie stadium nog nie moontlik om te sê of die aanvalle die begin is van ‘n vlaag van hierdie soort misdaad in die Wes-Kaap is nie. Wat tot nou toe gebeur het moet nogtans die gevaarligte skerp laat flikker.
“Die VF Plus wil plaaslike boere maan om met ‘n nuwe ingesteldheid veiligheid op hul plase te benader, om dit op te skerp en om voortdurend waaksaam te wees aangesien plaasaanvalle wel op enige plek in die land kan voorkom.
“Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die polisie om alles in hul vermoë te doen om die aanvallers op te spoor om sodoende intelligensie oor die moontlikheid van verdere aanvalle te bekom. Daadwerklike planne moet beraam word om te verhinder dat plaasaanvalle na die Wes-Kaap oorspoel.
“Ons doen ook opnuut ‘n beroep op Agri Wes-Kaap om met alle rolspelers saam te werk om ons boere te beskerm,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216