Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op die landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap om hul veiligheidsmaatreëls op te skerp en ten alle tye paraat te wees ná die jongste plaasaanval op die Buchner-gesin naby Nanaga in die Sarah Baartman-distrik.
Mnr. Werner Buchner, sy vrou Estelle en hul seun Werner (jnr.) is Sondagaand omstreeks halfsewe deur vermoedelik twee of drie aanvallers oorval op hul melkplaas Boslaagte.
Mnr. Buchner is noodlottig gewond. Werner (jnr.) is met skietwonde en Estelle met twee gebreekte arms na die hospitaal gehaas.
Die aanvallers het van die toneel gevlug met twee selfone en ‘n onbekende bedrag geld en is steeds op vrye voete.
Mnr. Buchner se afsterwe laat ‘n groot leemte in die landboubedryf. Hy het onder meer gedien op die raad van direkteure vir die Clover-suiwelgroep.
Plaasaanvalle en -moorde soos dié moet voor die deur van die ANC-regering gelê word aangesien dié soort misdaad tot ‘n groot mate beperk kan word indien spesialis-eenhede teen plaasaanvalle op die been gebring word.
Die VF Plus het nog altyd erns gemaak met plaasaanvalle en dring daarop aan dat die landelike beveiligingsplan, wat voorsiening maak vir die aanstel van bykomende personeel vir gespesialiseerde landelike eenhede, ten uitvoer gebring word.
Inwoners van landelike gemeenskappe word aangemoedig om aan te sluit by hul plaaslike buurt- en plaaswagte wat ‘n gesamentlike doelwit het om die omgewing te beveilig in samewerking met die polisie.
Die VF Plus sal aanhou om beswaar aan te teken teen plaasaanvalle en misdaad in die Oos-Kaap en elders in die land en sal deurlopend druk op die betrokke owerhede plaas om die veiligheid van inwoners in veral landelike gebiede te verseker.
Die VF Plus spreek sy meegevoel uit met mnr. Buchner se naasbestaandes en wens Estelle en Werner (Jnr.) ‘n spoedige en volkome herstel toe.