Terwyl Suid-Afrika vandag in ‘n ongekende wekroepaksie saamgestaan het teen die sinnelose geweld waardeur ons land se boere geteiken en uitgemoor word, is die nuus dat mnr. Sarel Erxleben van Deneysville, tydens ‘n gewapende roof in sy huis doodgeskiet is, bewys van die reuse probleem, sê Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat.
Van Niekerk en vele VF Plus-verteenwoordigers was vandag deel van protesaksies in die Vrystaat.
“Dit is ons as politieke partye, burgerregte organisasies en elke Suid-Afrikaner se plig om voort te bou op die momentum en solidariteit wat deur die Swart Maandag-protesaksie geskep is.
“Dit kan nie net bly by swart klere en optogte nie. Ons moet daadwerklike oplossings vir hierdie sinnelose geweld teen kwesbare lede van ons samelewing vereis. Dit is ook ons plig om onsself en ons geliefdes teen sulke aanslae te beskerm deur onsself weerbaar te maak.
“’n Ligpunt in die donker is wel ‘n plaasaanval wat Sondagaand naby Marquard in die Vrystaat afgeweer is. ‘n Egpaar Pilcher van die plaas Wildebeeslaagte het Sondagaand skuins na tienuur geluide buite hul slaapkamer gehoor.
“’n Venster is gebreek en mev. Pilcher het ‘n skoot in die rigting van hul slaapkamervenster gevuur toe hulle merk dat iemand besig was om daar in te klim. Die aanvallers het gevlug. Danksy die Pilchers se paraatheid en vinnige optrede kon hulle die aanval afweer.
“Dit is uiters belangrik vir alle Suid-Afrikaners en veral die boeregemeenskap om hulself weerbaar te maak teen sulke aanvalle.
“Ons is dankbaar dat die Pilchers ongedeerd is, maar betreur die feit dat hulle in die eerste plek deur booswigte geteiken is.
“Die VF Plus spreek sy innige meegevoel met mnr. Erxleben se geliefdes uit en sal alle moontlike druk op die polisie plaas om te verseker dat sy moordenaars uit die samelewing verwyder word,” het Van Niekerk gesê.
Kontakbesonderhede: 083 743 2042