Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Plaasaanval in Oos-Kaap wys landelike veiligheidsmaatreëls skiet tekort

Die VF Plus veroordeel die plaasaanval op Erica Fox, afgetrede polisielid en haar man, Andrie, op hul plaas tussen Alicedale en Paterson in die Oos-Kaap.

Vyf swaar gewapende aanvallers het die egpaar Woensdagaand omstreek 19:50 oorval, vasgebind en beroof. Die aanvallers het gevlug met twee haelgewere, ‘n 9mm pistool, ‘n .38-rewolwer, juwele en geld.

‘n Amerikaanse gas op die plaas het op die gewapende rooftog afgekom en uit vrees te voet op die vlug geslaan.

Die VF Plus verwelkom die vinnige optrede van die gemeenskap, boere, privaat sekuriteitsmaatskappye en polisielede om verskeie paaie te versper in ‘n poging om die aanvallers vas te trek. Hulle is egter steeds op vrye voete.

Die ANC-regering moet ophou om sy oë te sluit vir die misdaad wat handuit ruk in landelike gemeenskappe en sy grondwetlike plig nakom om al sy inwoners te beskerm en veral meer aandag te skenk aan die beveiliging van landelike gemeenskappe.

Die stryd wat Suid-Afrika se landbougemeenskap teen die elemente voer, is reeds ‘n wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om boonop ‘n oorlewingstryd teen misdaad te voer nie.

Die VF Plus het hom nog altyd verbind tot die verbetering van boere se lot in Suid-Afrika en sal voortgaan om die regering te wys op sy plig en verantwoordelikheid om erns te maak met landelike beveiliging in belang van almal in die land.

Die VF Plus doen ook ‘n beroep op landelike gemeenskappe om self hul veiligheidsmaatreëls op te skerp en aan te sluit by hul plaas- of buurtwagte en gemeenskappolisiëringsforums.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.