Die VF Plus se versoek aan die Openbare Beskermer (OB) in Julie 2012 om ondersoek in te stel na die tenderprosedure van Mpumalanga se provinsiale regering vir winkelpersele op Pelgrimsrus, het uitgeloop op ‘n groot oorwinning vir sakelui van die dorp, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.
Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het die omstrede tenderproses geskrap en dit moet van vooraf gedoen word. Daar is bevind dat die proses foutief was.
Volgens adv. Alberts was dit duidelik dat die tenderprosedure hoogs onreëlmatig was en dat dit in sommige gevalle selfs op bedrog neerkom.
“Die VF Plus is verheug dat die waarheid ontbloot is en dat die kontrakte gekanselleer is. Dit is ‘n groot oorwinning vir al die winkeleienaars wat te na gekom is. Ons sal nou die verslag behoorlik bestudeer en besluit of ons strafregtelike klagte teen die oortreders sal lê,” sê adv Alberts.
Hy sê die VF Plus het in 2012 gereageer op versoek van sommige van die sakemanne om in te gryp nadat die provinsiale regering eensydig besluit het om 17 van die 21 sakelui van die dorp se kontrakte op te skort en dit aan ander persone toe te ken.
Die winkeleienaars is boonop net 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim sodat die nuwe huurders kon oorneem. Volgens berigte is nuwe kontrakte glo teen “belaglike lae huurgeld” aan die nuwe huurders toegestaan.
“Dit het ‘n uiters nadelige uitwerking op die dorp se ekonomie gehad. Toerisme het drasties afgeneem en sekere groot toeroperateurs het Pelgrimsrus selfs van hul toerprogramme verwyder.
“Die tenderproses moet nou weer van voor begin, en die VF Plus sal dit fyn dophou om seker te maak die proses is hierdie keer eerlike en deursigtig, sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403