Na die DA se mislukte hofaansoek om die E-Tolwet geskrap te kry, staan nog net die Tolhek-Aksiegroep (TAG), waarvan die VF Plus deel is, tussen Gautengse padgebruikers en e-tol, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts het die TAG ‘n veel beter kans om met die hofaansoek te slaag aangesien die wettigheid van sekere regulasies ook betwis gaan word en nie net die grondwetlikheid van die E-Tolwet nie.
“Die E-Padregulasies is foutief deurdat die terme en voorwaardes vir die gebruik van e-tol daarin vervat, uitgereik is voordat die E-Tolwet gepubliseer is. Dit maak die regulasies dus onwettig.
“Die E-Toltariefregulasies is moontlik nie eens regulasies nie aangesien dit as ‘n blote kennisgewing uitgereik is. Verder voldoen die regulasies nie aan die E-Tolwet se eie vereistes om eers aan die parlement voorgelê te word vir goedkeuring nie. Dit het nooit voor die parlement gedien nie.
“Die TAG gaan nou voort met sy saak wat op 2 Desember verlede jaar op gronde van dringendheid afgewys is in die Noord-Gautengse Hooggeregshof. Dit sal nou op die gewone rol geplaas word nadat aanvullende stukke tot die saak gelewer is,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403