Hierdie week was daar by nog ‘n universiteit in Suid-Afrika ‘n voorval wat al die elemente gehad het om ook die voorblaaie van koerante te haal en vir die ANC en die minister van hoër onderwys om persoonlik in te gryp. Maar dit het nie gebeur nie.
Net soos in Potchefstroom, was daar ook studente betrokke, maar wat gebeur het was veel erger. Dit was nie net ‘n saluut wat vir die studente deel was van ontgroeningspret nie. Nee, dit was studente wat aggressief alle reëls van die universiteit en die samelewing oortree en verbreek het.
Hulle het mede-studente aangeval, eiendom beskadig, klasse ontwrig en alle bedrywighede tot stilstand laat kom. Maar die media het geswyg. Die regering het geswyg. Die minister wat so ywerig was om by die Potchefstroomse Universiteit in te gryp, het nie ‘n woord hieroor gerep nie.
Ek wonder of die minister ooit weet van die voorval? Indien nie, sal ek hom nou vertel.
Dit was hier onder ons neuse, by die Universiteit van die Wes-Kaap. Dinsdag hierdie week. Studente wat glo ontevrede is omdat van hul mede-studente nie registrasiegelde kan betaal nie, het ‘n staking gereël. Dit het heeltemal hand uit geruk.
Die betogers het klasse binnegestorm, handgemeen geraak met ander studente, hul studiemateriaal rondgegooi, rekenaars en selfone gebreek en van die bevreesde studente selfs met die dood gedreig.
Dit klink vir my veel erger, veel meer onheilspellend en afbrekend vir nasiebou as ‘n saluut.
Die rede vir die groot stilswye is moontlik omdat die studente wat die chaos veroorsaak het, t-hemde van die ANC en die EFF aangehad het.
Dit is heel moontlik die rede vir die tydelike blindheid, maar ek is seker die sig sal weer helder en duidelik terugkom wanneer daar iets by ‘n tradisioneel Afrikaanse universiteit gebeur.
Weet u dat een van die studente so erg deur die voorval getraumatiseer is dat sy behandeling moes ontvang? Weet u dat die betogende studente handgemeen geraak het met wit en bruin studente wat duur betaal het vir hul studies en net in rus en vrede wil studeer?
Dit is ernstige geweldpleging. By ‘n voorste universiteit van Suid-Afrika. En u weet nie daarvan nie. Dit is ‘n simptoom van die samelewing wat u in Suid-Afrika geskep het.
Onsinnighede en leuens word verhef tot ‘Good News’-stories. Die waarheid wat die ontstellende prentjie van die ware Suid-Afrika skilder, word bloot geïgnoreer en verswyg.
Hierdie voorval mag u dalk aflag. U mag dalk dink dit is ‘n nietigheid. Maar ek sê u vandag, daar is studente wat onder hierdie vandaliste en geweldplegers se hande deurgeloop het wat nie dink dit is ‘n grap nie.
Want dit is nie ‘n grap as ‘n student in ‘n klas aangeval word nie. Hulle sal nog lank die wonde dra. En die krake wat daar tussen jong mense van verskillende rasse veroorsaak is, kan later skeure word wat u drome van nasiebou totaal uitmekaar gaan skeur.
Skrik asseblief wakker en besef dit is nie net die ANC wat regte en voorregte in hierdie land het nie. Dit is al sy inwoners. Swart, bruin en wit. Elke minderheidsgroep. Elke student. Elke skoolkind.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403