n Verklaring oor die grondoudit deur die waarnemende minister van grondsake, Lechesa Tsenoli, het vandag chaos in die parlement veroorsaak nadat een van die VF Plus se parlementslede, dr. Pieter Groenewald, gesê het die minster het ‘snert’ gepraat.
Groenewald het sy toespraak begin deur te sê die minister het maar net kom bevestig dat daar wel ‘n grondoudit gedoen word en niks nuuts nie. Die VF Plus vra al sedert 2004 dat ‘n behoorlike grondoudit gedoen moet word om te bepaal hoeveel landbougrond deur wit en swart boere besit word.
Indien dit nie bepaal kan word nie, kan die regering nie sê hoe ver hy van sy doelwit van 30% landbougrond in swart besit is nie.
Na punte van orde het die adjunkspeaker bepaal dat hoewel die woord snert (nonsense) nie onparlementêr is nie, is dit onrespekvol teenoor ‘n minister en gevra dat Groenewald dit moet terugtrek. Hy het geweier en die speaker het hom daarop gevra om die raadsaal te verlaat.
Groenewald het na die tyd gesê uit skriftelike antwoorde van die minister van grondsake, Gugile Nkwinti, aan hom, is dit duidelik dat grondsake nie weet hoeveel grond werklik in besit van wit en swart boere is nie.
“In een antwoord sê die minister daar is reeds 7,2 miljoen ha grond uit 24,5 miljoen ha grond oorgedra aan swart boere. Dit is slegs 9,8% van die teiken van 30% of 24,5 miljoen ha.
“Die minister bring egter nie kommunale grond, en grond wat aan die staat behoort. in berekening nie. Daar is al hoeveel keer gesê dat ‘n behoorlike grondoudit gedoen moet word sodat almal weet waarvan gepraat word.
“Dit is onaanvaarbaar dat die minister self erken het dat 90% van die grondhervormingsprojekte misluk het en dat hierdie projekte eers suksesvol moet wees voordat verder grond herverdeel word. Indien dit nie gebeur nie, sal voedselsekerheid in Suid-Afrika bedreig word.
“Voordat ‘n behoorlike grondoudit nie gedoen is nie, sal die ANC misbruik maak van grond om emosies op te jaag, veral met die oog op stemwerwing vir die verkiesing. Dit sal nie net landbou nie, maar die hele Suid-Afrika benadeel,” het Groenewald gesê.
Dr. Pieter Groenewald
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403