Dit is onaanvaarbaar dat passasiers en vlieëniers met die reuk van riool begroet word wanneer hulle land by die Vereeniging-lughawe.
Rioolvloei by die lughawe is reeds ‘n geruime tyd ‘n probleem, veral op die aanloopbaan en die gebied rondom die brandstofpompe. Buiten die vryelike vloei van riool, is al die mangatdeksels vermoedelik gesteel en is die reuk onuithoubaar. Riool vloei ook deur die vliegskoolgebou waar 40 studente opgelei word.
Die lughawe is onder die jurisdiksie van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, maar alle instandhoudingswerk word deur die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) hanteer.
Die ANC het egter Emfuleni so finansieel wanbestuur dat dit basies bankrot is en nie die basiese dienste kan lewer of infrastuktuurinstandhouding kan doen nie.
Met 45 rioolpompe wat buite werking is, is rioolstortings ‘n algemene gesig in dié munisipaliteit.
Daar is ook geen dringendheid by Emfuleni om die rioolvloei by die Vereeniging-lughawe as prioriteit te hanteer nie. Die enigste antwoord wanneer die probleem aangemeld word, is dat die vervanging van die verouderde rioolpype op die 2022/23-begroting geplaas sal word.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n bate wat ‘n groot bydrae kan lewer tot die ekonomiese vooruitgang van die gebied tot in die afgrond verwaarloos word.
Die VF Plus gaan druk op Emfuleni plaas om dadelik aandag te skenk aan die rioolprobleem by die lughawe.
Daar kan nie gewag word daarmee tot die volgende begrotingsjaar nie.
Navrae: 082 771 5399