Parlementslede wil debatteer oor misdaad en geweld terwyl dit juis in die parlement is waar die voorbeeld meermale aan die publiek gestel word oor hoe om verskille deur middel van geweld op te los.
Die mense van Suid-Afrika het al by herhaling gehoor hoe daar in die parlement gepraat word oor geweld en misdadigheid. Hulle het nou moeg geword vir leë woorde. Hulle wil optrede sien.
Die situasie in die land kan vergelyk word met ‘n spinnekop-web waar die spinnekop geweld en misdadigheid versinnebeeld. Die drade is ‘n velerlei netelige kwessies wat die spinnekop aktiveer wanneer daaraan geroer of geraak word.
Een aspek van die spinnekopweb is dat daar respek vir mekaar se verskille moet wees. Tog het ondervinding in die parlement geleer geskille word meermale deur geweld besleg deur parlementslede wat met geweld uit die raad verwyder moet word. Geweld en misdaad het die aanvaarde metode in Suid-Afrika geword om op probleme te reageer.
Dit is die voorbeeld wat aan die publiek gestel word. Hoe ironies dat die einste parlement dan sal debatteer oor iets soos gesinsgeweld terwyl hy self die voorbeeld stel oor hoe geweld gebruik word om geskille op te los.
Die regering moet aanvaar hy het ‘n verantwoordelikheid om stappe te neem teen misdaad en geweld, maar dit raak toenemend duidelik dat hy in ‘n staat van ontkenning verkeer en die skuld van probleme probeer vermy deur ander te beskuldig.
Solank as wat die ANC die skuld vir die land se probleme op die wittes probeer afskuif, solank sal hy dit nie oplos nie.
Die feit dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, die skuld vir xenofobiese aanvalle op wittes pak, is ‘n bewys dat die regering nie sy verantwoordelikheid teenoor die situasie kan of wil aanvaar nie. Dit skep polarisasie in die land.
Die land se strafregstelsel moet verbeter word om daadwerklik teen misdadigheid op te tree. Misdadigers kom met moord weg. Spesialiseenhede soos die moord-en-roofeenheid moet teruggebring word. Misdadigers moet weet hulle sal die prys betaal as hulle misdaad pleeg en moor.