Die voortslepende stryd tussen die Mangaung-metro en Bloemwater het net een verloorder, en dit is die inwoners van die metro wie se vrye toegang tot voldoende water geskend word.
Die Mangaung-metro het vandag ‘n dringende aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein gebring waar die metro aanvoer dat die verlaging van watertoevoer ‘n menseregteskending van inwoners van die metro is. Inwoners van sekere gebiede is sedert die afgelope naweek sonder water gelaat.
Die saak is nie afgehandel nie en uitspraak sal eers later geskied. Tot dan het die hof beveel dat die huidige waterbeperkings herstel moet word.
Luidens ‘n vorige hofbevel mag Bloemwater nie water afsny voordat ‘n hangende dispuut nie afgehandel is nie. Die dispuut handel oor droogtetariewe wat verkeerdelik gehef is. Bloemwater voer egter aan dat hy nie water aan die metro kan verskaf alvorens die enorme skuld aan Bloemwater gedelg is nie aangesien kostes aangegaan moet word om water te voorsien.
Intussen word inwoners van die metro gestraf en sonder water gelaat as gevolg van die toutrekkery tussen die partye.
Die VF Plus spreek sy kommer uit oor die aanhoudende skending van inwoners se menseregte. Betalende inwoners is vir die soveelste keer die jaar gestraf as gevolg van die wanadministrasie van die ANC.
Bloemwater het vandag aangevoer dat dit nie sy verantwoordelikheid is om die waterdruk, wat na 30% verlaag is, eweredig aan inwoners te versprei nie. Die metro faal egter in hierdie taak, omdat hoogliggende gebiede nie van water voorsien word sodra waterdruk verlaag is nie.
Die enorme skuld aan Bloemwater kan gedeeltelik toegeskryf word aan die miljoene liter water wat verlore gaan weens swak instandhouding en lekkasies.
Die VF Plus sal volgehoue druk op die metro plaas om toe te sien dat instandhouding en herstel van lekkasies geskied om sodoende te voorkom dat die rekening nie die hoogte inskiet nie.
Die VF Plus het vandag ‘n brief aan die Vrystaatse-sweep van die nasionale raad van provinsies (NRP) gerig om te versoek dat die burgemeester van die Mangaung Metro, Olly Mlamleli, voor die NRP verskyn met haar besoek aan die metro in die komende Vrystaatse oorsigbesoek.
Die metro het homself in die situasie geplaas deur nie voorkomend en verantwoordelik op te tree nie. Die metro kan nie aanhou om inwoners se gewaande menseregte as rede aan te voer oor waarom Bloemwater nie mag optree nie. Dit is immers die metro wat deur wanbetaling die situasie geskep het.