Die stand van primêre gesondheidsorg in die Kopanong-provinsiale hospitaal, Sedibeng, is benard. Dit geld veral met betrekking tot farmaseutiese dienste, infrastruktuur, pasiëntesorg en wagtydperke,” sê Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid in Sedibeng (Midvaal).
Hy meen die inkonsekwente voorsiening van medikasie moet dringend aangespreek word. Dit neem kritieke afmetings aan.
“Skedule-, voorskrif-, chroniese- en ad hoc-medikasie word in baie gevalle eenvoudig nie voorsien nie. Daar is nou vir die derde maand agtereenvolgens byvoorbeeld geen morfien beskikbaar vir kankerpasiënte nie. Hierdie krisis strek regoor Gauteng. Pasiënte wat morfien moet kry, word bloot minder doeltreffende alternatiewe in die plek daarvan gegee. Dit veroorsaak ‘n wrede en onmenslike lyding met betrekking tot pynbestuur.
“Nog ‘n krisis wat dringend deur die Gautengse departement van gesondheid aangespreek moet word, is toerusting wat nie werk nie en ook nie herstel word nie. ‘n Permanente tekort aan beddens, uitgediende en verouderde saaltoerusting en ‘n nypende tekort aan medici en verpleegpersoneel is aan die orde van die dag.
“Bloedtoetse en beperkte x-straal ondersoeke kan by primêre hospitale gedoen word. Vir alle ander spesialis ondersoeke moet pasiënte na tersiêre (streek) hospitale reis. Die wagtydperke vir verdere ondersoeke kan tot ses maande duur weens tekorte aan personeel en mediese toerusting.
“Psigiatriese dienste is skrikwekkend. Met die Life Esidimeni-tragedie in gedagte moet daar uiters dringend ondersoek ingestel word na psigiatriese dienste, veral by Kopanong-hospitaal.
“Die ongevalle proses moet ook dringend hersien word. Beleid vir voorkeurbehandeling volgens dringendheid is in plek, maar word hoegenaamd nie toegepas nie
“Die ANC-regering kan hulself ‘n rat voor die oë draai, maar die ware feite is dat ‘n algehele ineenstorting van gesondheidsdienste in Sedibeng nie meer net ‘n vrees is nie, maar ‘n wrede werklikheid,” het Hoffman gesê.
Kontaknommer: 071 640 7283